Oupa sou vir klein Declan leer swem

Die klein seuntjie wat byna op 10 Januarie in Witrivier verdrink het, se pad na herstel lyk baie goed nadat hy hierdie week by sy fisioterapeut was.

Declan Odendaal sal oor so ‘n paar maande twee jaar oud wees, en sy ma, Candita, is op hierdie stadium net dankbaar dat hy nog steeds by hulle is na hy byna verdrink het.

Die fisio was hierdie week baie goed gewees, sê sy. “Sy (die terapeut) kry géén spiertonusprobleme nie en het hom asemoefeninge gegee (blaas- en suigspeletjies). Verder as dit is sy vordering net positief.”

Hulle kan nou by die huis met die oefeninge voortgaan, en sou hulle binne die volgende ses maande enigiets buitengewoons opmerk, kan hulle terapie oorweeg.

LEES OOK: Pa se noodhulpopleiding red seuntjie se lewe na hy byna verdrink in Witrivier

By die huis gaan dit redelik rustig, sê sy. Declan gaan aan soos normaal, die absolute wonderwerk wat hy is. “Die ander twee fokus nou op hulle skoolwerk. Die onderwysers hou ook daar vir my dop indien dit nodig is vir traumabehandeling.”

Declan se sussie, Elika (9), en boetie, Bordeaux (6), was albei daar toe hy byna verdrink het. Elika het om hulp geskree toe sy op haar kleinboet afkom. Candita sê egter hulle twee is ysters.

Sy self wil, wanneer sy die kans kry, vir noodhulpopleiding gaan. Sy het dieselfde raad aan ander ouers gegee, selfs al dink hulle dit is nie nodig nie. Haar man, Martin, se opleiding en vinnige optrede is wat hulle seuntjie se lewe gered het.

Swemlesse is moontlik binnekort op die horison vir klein Declan. Oupa Coray de Bruyn van Malalane (Candita se pa) sou hom geleer het, soos hy vir boetie en sussie geleer het, maar hy is in Julie verlede jaar oorlede.

Die Odendaals het tot en met November nog daar gebly en toe Witrivier toe getrek.

LEES OOK: Marloth-leeus steeds ‘n realiteit

Dit is juis hoekom hulle ook so dankbaar is teenoor die omliggende gemeenskap. “Ek het skaars by my nuwe werk begin; dis hoekom ek nie kan ophou dankie sê vir die gemeenskap en die ondersteuning nie.”

Do you have more information about the story?

Please send us an email to editorial@lowvelder.co.za.

For free breaking and community news, visit Lowvelder’s website: Lowvelder

For more news and interesting articles, like Lowvelder on Facebook, follow us on Twitter or Instagram 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version