Local newsNews

So op ’n druppel identies

Die opwinding was groot toe die tweeling, Jannike en Teniske (7), hoor hulle is gekies om in die nuwe musiekvideo met Adam te verskyn.

Adam is ’n gewilde Suid-Afrikaanse popgroep en bestaan uit drie lede: Hugo Ludik, Christoff de Beer en Kyle Grant. Na hulle ’n kompetisie op sosiale media, genaamd Photo Focus, gewen het, het die tweeling by die skiet van die musiekvideo van “Flippen skaars” aangemeld.

Saam met jul ouma se hondjie, Hailey Bieber.

By die Photo Factory in Alberton op 28 Augustus het Adam al die wenners verwelkom. Jannike en Teniske, van Lydenburg, was die wenners onder die ouderdomsgroep van vyf tot sewe jaar. Deelnemers van verskillende ouderdomme is vir die video gekies. Almal het iets besonders aan hulle, of iets wat hulle uniek maak. Volgens Anelda Hennop, die tweetjies se ma, was die filmspan baie beïndruk deur hoe professioneel die tweeling op die stel was. Hulle het maklik die aanwysings gevolg. Pieter en Anelda Hennop noem dié twee patrone hul “engeltjies”. Met hul geboorte op 33 weke het dr. Richard Joubert die Hennop-egpaar meegedeel hoe skaars dié spesifieke tweeling is. Jannike en Teniske het aparte plasentas en vrugsakke gehad. Hulle deel egter identiese genetiese materiaal. Daar is net 5% van hierdie tipe tweelinge in die wêreld. Daarom is die dogtertjies so uniek. “Hulle is meer dansers as modelletjies en maak tot TikTok-videos. Ek self het modelwerk gedoen en is op die ouderdom van 18 ’n kontrak deur Wilhelmina Models in New York aangebied. Ek en my ma, Lynette Smith, het net gevoel ek was tóé te jonk om oorsee te werk. Die TikTok rekening is op my naam. Ek en hul pa is baie streng. Daarom neem hulle net aan ’n projek deel as dit vir hulle lekker is. Ons wil hulle nie as sulks in die vermaaklikheidsbedryf laat werk nie. As hulle dit geniet, kan ons aan iets soortgelyk deelneem,” het Anelda gesê. Hulle neem elke week by Rosemarie Dance Academy dansklasse.

Jannike en Teniske tydens die verfilming van die video.

Die tweeling se droom is om eendag wanneer hulle groot is, veeartse te word, en hulle is groot diereliefhebbers. Een van hul gunstelinguitstappies is om tussen oupa Maans Smith se beeste te kuier. Die Bostonterriër, Hailey Bieber, verskyn gereeld op sosiale media saam op hul foto’s. Sy is eintlik hul ouma se hondjie, maar die tweeling trek haar gedurig in pienk balletrokkies aan en steek kleurvolle strikke aan haar halsband vas. Die hondjie kry tot haar eie spesiale verjaardagpartytjie met ’n koek wat geskik is vir honde. Hailey Bieber is die naam van die bekend popster Justin Bieber se vrou, en hy is een van hul ouma se gunstelingsangers. As jy by Elzaan Prinsloo se gr. 1-klas by Laerskool Lydenburg instap, mag Jannike en Teniske dalk skaam voorkom. Wees egter versekerd, voor ’n kamera kán hulle blom.

Tussen hul oupa, Maans Smith, se beeste is hulle ewe tuis.

Lees ook: Geniet ‘n teetjie met Lizz Meiring

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button