Laerskool Bergland versier bome in geel om hoop te bring

Het jy dalk gewonder hoekom sekere bome in die Laeveld in geel gedrapeer is?

Die bekende sanger, Jo Black, vra in een van sy liedjies: “Wat is hoop?” Hy antwoord homself deur te sê dat dit die wens is dat die son weer opkom en dat vrede by ons uitkom.

In ‘n poging om hoop te versprei ten spyte van Covid-19 het Laerskool Bergland en Canary Walk Mall and Office Park hande geneem en deel geword van die Bome van Hoop-inisiatief.

Mr Canary, die geel gelukbringer, het Laerskool Bergland op 27 Augustus besoek. Die hele skool het geel klere aangetrek en die leerders moes niebederfbare kos bring om in te samel vir die kosbank. Mr Canary het onder die kinders inspirerende boodskappies uitgedeel.

LEES OOK: Ná als bly Nataniël steeds dankbaar

Bederfpakkies van bemoediging is ook aan die onderwysers uitgedeel.

Laerskool Bergland het uitgegaan en bome rondom Mbombela in geel gedrapeer, en moes toe ‘n ander laerskool nomineer.

 

Laerskool Bergland het Nelspruit Primary gekies. Aangesien hulle die uitdaging aanvaar het, het Canary Walk ‘n R1 000 se geskenkbewys vir die skool gegee om kos vir hulle kosbank te koop of om twee gesinne in die skool met kos te help.

Saam met die geskenkbewys gee Canary Walk Mall and Office Park ook die skool ‘n beginpakkie van geel lap en pamflette om die projek op die been te begin.

Carien Craig, Canary Walk Mall se finansiële bestuurder, het gesê dat Nelspruit Primary die kers van hoop aan Laerskool Nelspruit oorhandig het en dat die skool ook die beginpakkie en geskenkbewys ontvang het.

Volgens die Bome van Hoop Facebook-blad is daar al 93 dorpe betrokke met hierdie inisiatief.

Exit mobile version