Local newsNews

Nelspruit-inwoner dood op pad na ma

Wat veronderstel was om ’n vreugdevolle Moedersdag-naweek te wees, het in tragedie geëindig toe 'n inwoner van Mbombela, Tiaan Bezuidenhout (25), op die N4 naby Kroondal in die Noordwes verongeluk het.

Bezuidenhout, wat onlangs met sy vrou, Dominique, na Mbombela verhuis het, was Saterdagoggend op pad om vir sy ma in Rustenburg te gaan kuier toe sy Ford Ranger-bakkie met ’n vragmotor gebots het.

Tiaan se vriend, Morné Strydom, sê hy is onseker oor hoe om te voel. “Dit voel onwerklik. Ek dink met die roudiens hierdie week gaan dit eers insink.”

Tiaan en Dominique op hul troudag.

Tiaan en Morné het saam vir NWU rugby gespeel en was in dieselfde koshuis. “Hy was soos ‘n broer vir my. Alhoewel ons dieselfde ouderdom was, was hy so volwasse. Ek kon altyd na hom toe gaan vir advies.”

Tiaan het in 2019 na universiteit by LVM Versekeringsmakelaars in Mbombela begin werk, alhoewel hy onderwys studeer het. Dominique is ’n onderwyser by Laerskool Nelspruit.

ALSO READ: Gemeenskap groet geliefde Laevelder na jare lange kankerstryd

“Hy het onderwys geswot en ons het hom die geleentheid gegee om hier te kom werk. Hy het onder begin en in twee jaar homself opgewerk,” sê Jacques Janse van Vuuren, direkteur van LVM. “Hy was die beste ou in die wêreld. Hoogs intelligent en sagmoedig.”

Tiaan Bezuidenhout en Morné Strydom.

Tiaan het van sy eerste jaar in 2014 vir NWU rugby gespeel. Hy was in 2018 aangewys as kaptein van die Noordwes Universiteit se Varsitybekerspan.

“Hy kon professioneel gaan rugby speel het, maar het dit opgegee toe hy verloof is,” verduidelik Janse van Vuuren.

Morné verduidelik dat Tiaan gekies het om liewers sy lewe met sy vrou te begin as om verder op sy rugbyloopbaan te fokus. “Rugby verg baie stres. Sy vrou het in Mbombela gewerk en hy wou haar ondersteun en sy lewe met haar begin.”

Tiaan word oorleef deur sy ma, Lazelle, en jonger broer, Francois.

Die roudiens sal Woensdag om elfuur in die AGS Communio Nelspruit plaasvind.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button