Cyzelle Fincham: ‘Ek kon die hemel sien’

Cyzelle Fincham, wat op 11 September in 'n ernstige ongeluk met 'n veldvoertuig was, sterk tans goed aan by die huis. Sy en haar man, Kelvin, wou graag die gemeenskap bedank vir al die gebede en ondersteuning gedurende dié tyd.

 “As daar een ding is wat ons graag wil sê en wil hê almal moet weet, is dat ons ongelooflik dankbaar is vir almal se hulp, ondersteuning en gebede,” sê Cyzelle.

“Ek is trots om ‘n Laevelder te wees. Die gemeenskap het saamgestaan sonder dat hulle dit eers regtig besef het, glo ek.”

Laevelder het onlangs by haar gaan kuier om te hoor hoe dit gaan. Sy vertel dat hulle daardie naweek by kennisse gaan kuier het en dat haar kinders by haar aangekom het met ‘n baba-eendjie.

“Ek het nog die eendjie afgeneem en saam met een van ons vriende in die veldvoertuig geklim om hom op ‘n veilige plek te gaan vrylaat,” sê sy. “Op pad terug het ons regs om ‘n draai gegaan en ek vermoed die wiele het vasgesteek en veroorsaak dat die voertuig rol. Ek onthou nog dat ek geskree het: ‘Ek gaan uitval!’.”

Cyzelle is uit die voertuig geslinger en die voertuig het agter haar aangerol en op haar geland. “Ek onthou dat ek nog gedink het: ‘Wat nou?'” sê sy.

Kelvin het op daardie oomblik vir Cyzelle gebel om te hoor waarom hulle so lank vat. Die bestuurder van die voertuig het hom toe dadelik laat weet dat hy moet kom om te help. ‘n Paar mense het toe die voertuig van Cyzelle af gelig.

“Kelvin het my gedra na die kar toe; hy is nou nie net meer my man en die pa van my kinders nie, maar werklik my held ook,” vertel Cyzelle.

Sy is van daar af na Mediclinic Nelspruit gehaas.

“Dr. Noulene du Plessis en dr. Pieter Scheepers het eers my gesig behandel. Hulle het deur my mond die steke ingesit sodat daar minimale letsels sou wees.

“Ek het nuwe respek vir dokters, veral dié wat so wonderlik is in hulle veld.”

Sy is op 14 September met ‘n helikopter na Pretoria oorgeplaas as gevolg van die erns van haar beserings.

“Ek wou nog altyd in ‘n helikopter vlieg. Nou het ek en ek het nie eens daarvan geweet nie,” lag Cyzelle.

LEES OOK: Plaaslike prokureur dood na aanval op kleinhoewe naby Witrivier

Sy het twee breuke in haar gesig gehad, haar wangbeen was ingeduik, sy het ses gebreekte ribbes gehad, haar bekken was op drie plekke gebreek, haar linkerbeen se senuwee het seergekry, drie nekwerwels en lae-rugwerwels het spanningsbreuke opgedoen, en haar enkel het ‘n gat in gehad.

“Ek het vir dr. Chris Snyckers gevra: ‘So, dokter, is ek nou ‘n wonderwerkie?’. Hy het gesê: ‘Haal die ‘kie’ uit, want jy is ‘n groot wonderwerk’.”

Snyckers, van Eugene Marais Hospitaal, het Cyzelle se bekken met skroewe geset.

“Ek het by die dood omgedraai en ek kan onthou dat toe ek in die hoësorgeenheid was, ek die mense kon sien wat vir my gebid het.

LEES OOK: Covid-19 eis ook Innibos 2020

“Ek het in die teater ook uitgeroep na die Here; ek kon die hemel sien en ek het na Hom geroep en gevra of ek die hemel gemis het. Ek het engelkore ook gehoor.”

Cyzelle het van oral in die wêreld ondersteuning en gebede ontvang. Selfs die sangeres Riana Nel het ‘n boodskap gestuur en daarmee saam ‘n liedjie gesing vir haar genesing.

Na slegs twee weke is sy op 30 September terug geplaas na Mbombela. Sy moet nou rehabilitasie en fisioterapie ondergaan.

“Sover is daar darem nog nie weer operasies wat vir my voorlê nie, maar ‘n mens weet nooit wat in die toekoms inhou nie.”

Cyzelle voel sy is geroep om ‘n berader te wees en om mense deur moeilike omstandighede te help. Sy noem dat die ongeluk en alles waardeur sy gegaan het, net nog iets is wat haar sal help ander te help.

Exit mobile version