Plaaslike prokureur dood na aanval op kleinhoewe naby Witrivier

Hy is drie keer geskiet en is kort hierna in Kiaat-privaathospitaal oorlede.

‘n Welbekende prokureur van ‘n firma in Mbombela is vanoggend dood nadat hy op ‘n kleinhoewe in die Plaston-omgewing aangeval en geskiet is.

Gerrit Stander (38), ‘n prokureur by Swanepoel & Vennote, is omstreeks 02:00 deur ‘n groep mans oorval. Volgens sy pa, Martiens, wat op dieselfde perseel bly, het die verdagtes vermoedelik die elektriese heining geknip en die veiligheids-en houtdeur afgebreek om toegang tot die huis te verkry.

“Met die intrapslag het die hond wat in die huis was begin blaf. Gerrit het gaan ondersoek instel en dit lyk asof ‘n struweling ontstaan het. Hy is in die proses drie keer geskiet en is kort hierna in Kiaat-privaathospitaal oorlede,” het Martiens gesê.

ALSO READ: Lowvelder dies in motorcycle accident

“Sy vrou, Yolandi, het ‘n noodkreet op ‘n WhatsApp-groep uitgestuur en toe ek by hulle aankom het ek my seun op die vloer gekry.”

Christiaan, Gerrit se jonger broer, het hom inderhaas na die hospitaal geneem, terwyl Martiens by Gerrit se dogtertjie (8) gebly het.

Omstreeks 07:00 het die familie verneem dat Gerrit te veel bloed verloor en aan sy beserings beswyk het.
“Ons is dankbaar dat ons tyd gehad het om hom te gaan groet,” het Martiens gesê.

Die verdagtes is fort met twee selfone, ‘n skootrekenaar en televisie.

Hierdie is ‘n ontwikkelende storie en meer besonderhede sal bygewerk word sodra dit beskikbaar is.

Die polisie het intussen laat weet dat ‘n saak van huisroof en moord ondersoek word.

Enigeen met inligting kan vir John Mabunda by 082-449-0334 of Crime Stop by 08600 10111 skakel. Die SAPD se toepassing, MySAPSApp, kan ook gebruik word. 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version