Local newsNews

Kaapsehoop spog met ‘n Siya van hul eie

Op Maandag 4 November is daar 'n baie spesiale vulletjie op Kaapsehoop gebore.

Dis vultyd op die berg, en die dorpsmerries kom spog gereeld met hulle nuwe klein vulletjies wat nog op wankelrige beentjies rondloop.

Makkie, die dorp se oudste en vrugbaarste merrie, het die dorpenaars verras toe sy vroegoggend, so in die digte mis, lewe geskenk het aan ‘n ligbruin nuweling. Dit op die bejaarde ouderdom van 18 jaar.

Volgens Rudi du Plessis, wat sedert einde 1998 woonagtig is op Kaapsehoop, het Makkie ‘n besonderse geskiedenis.

Haar pa was Elvis, ‘n pragtige hings met ‘n lang Elvis-kuif, en haar ma was Spot, twee perde wat vir baie lank die patriarg en matriarg van die dorpstrop was. Hulle het albei uiteindelik spoorloos verdwyn.

LEES OOK: Waterval Boven legende sterf

Petro du Plessis, eienaar van Koek ‘n Pan op Kaapsehoop, het vir Makkie haar naam gegee toe sy as ‘n klein vulletjie in die raam van ‘n sleepwa vasgekeer was.

Toe Du Plessis haar vrygelaat het, het sy agtergekom hoe mak die klein vulletjie is, en haar die naam Makkie gegee.

Makkie het ‘n hele paar jaar gelede haar regteroog verloor, maar niemand weet hoe dit gebeur het nie.

Sy was verlede jaar by een geleentheid baie siek aan koliek en Du Plessis het gedink dat sy dit nie gaan oorleef nie.

Christo Germishuys van Kaapsehoop Horse Trails het na die siek perd kom kyk en gesien dat Makkie se tande reeds baie afgeslyt is weens ouderdom.

Nadat Du Plessis ‘n foto van Makkie en haar baba op Facebook gedeel het, het Dana Snyman, wat verlede jaar vir ‘n wyle op Kaapsehoop gewoon het, dadelik gereageer.

“Makkie is ‘n merkwaardige vrou. Jy weet natuurlik wat is daardie vulletjie se naam – SIYA. Kan werk vir ‘n merrie of ‘n hings. Siya, gebore twee dae nadat ons die Beker gevat het.” het Snyman op Rudi du Plessis se Facebook-blad kommentaar gelewer.

Vir ‘n meer gepaste naam vir die nuwe merrie kan ‘n mens inderdaad nie vra nie.

LEES OOK: Natuurlewe herleef op Kaapsehoop

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button