Local newsNews

Waterval Boven legende sterf

Gert Machiel Lombard (78), trotse jarelange inwoner van dié dorp, is op 31 Oktober vanuit die Gereformeerde Kerk begrawe.

“Oom Gert”, soos wat hy vir baie bekendgestaan het, het tot sy dood ‘n reuserol gespeel as dorpsraadslid en belastingkomiteelid op die dorp. Hy was vir jare Waterval Boven se burgemeester – onder andere tydens die dorp se eeufees in 1995.

Meer onlangs, na die plundering van die administrasiegebou in 2016, het oom Gert daarvoor gesorg dat die gebou gerestoureer word. Hy het ook die hoofstraat wat vol slaggate was, weer laat teer. Vir Boveniete was hy iemand wat sinoniem was met die skilderagtige dorpie.

Vir sy kinders en kleinkinders was hy ‘n eerlike, betroubare, standvastige man met uitsonderlike medemenslikheid, aldus ‘n boodskap op sy begrafnisbrief.

Almal wat hom geken het weet dat hy saam met sy vrou, tannie Mara, by God in die Hemel is.

“Pappa was vir ons ‘n lewende voorbeeld van hoe om jou skeppingsdoel uit te leef, ten volle, sonder om terug te hou. As man, pa en oupa het Pappa voluit vir God ons Skepper geleef,” het sy geliefdes in ‘n brief onthou.

 

Oom Gert en sy liewe tannie Mara wat in 2005 oorlede is.

Die Gereformeerde Kerk was vir hom baie belangrik. Hy was kassier en skriba en het saam met sy boesemvriend, Lappies Labuschagne, die kerk aan die gang gehou. Die twee ooms was soms die enigste lidmate in die kerk en sou vir mekaar preke voorlees en saam lofliedere sing.

Soms was hul gesinne ook daar. Hulle het die gebou en terrein in stand gehou. Oom Gert se begrafnis was die laaste diens wat ooit in die kerkgebou gehou sal word. Ds. Thys Erasmus het bevestig dat die gemeente ontbind het.

LEES OOK: DBV sonder voertuig gelaat na ongeluk

“Die eiendom gaan aan klassis oorgedra word om te verkoop vir Woorbediening in die klassis,” het hy verduidelik.

Oom Gert word oorleef deur sy kinders Annatjie Naudé, Alanie de Bruyn, Francois Lombard en agt kleinkinders.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button