Community galleriesGalleriesNewsNews

‘n Uitdaging eindig in ‘n fees

Die Blaauw-klippen Wynlandgoed het 36 jaar gelede met die slim plan gekom om wynklubs in die land uit te daag om te help wyn maak.

Een keer per jaar kan wynliefhebbers hul lywe wynmaker hou en inskryf vir die heerlike uitdaging om uit vier rou wyne, volgens bepaalde voorskrifte, ‘n versnit aanmekaar te flans. Die wenversnit word dan deur Blaauwklippen gekies en in ‘n beperkte oplaag vervaardig en gebottel vir die mark.

Lydenburg se Wyngilde het reeds 24 keer vir dié uitdaging ingeskryf en drie keer tussen die top vier finaliste beland. Maar vanjaar was die kroonjaar – toe die Gilde aangewys is as die wenner uit 77 deelnemers van oor die hele land.

Lees meer: Leer meer oor wyn by wyngilde

Op Vrydag 18 Oktober is die vier finalis-klubs op die pragtige Blaauwklippen- landgoed buite Stellenbosch, luisterryk onthaal. Op die feestafel was die wenwyn in magnum-bottels met die bekende kunstenaar, Frans Groenewald, se etikette op. Jakkie Swanepoel en Brian Whitehorn het gesukkel om te glo dat die bottel hul resep bevat.

Voor die groot aankondiging het elk van die vier finaliste geleentheid gekry om iets te sê van sy klub. Die klub se sekretaresse, Gerda Whitehorn, het Lydenburg Wyngilde se 32 jaar geskiedenis met die uitgelese wyndrinkers gedeel. Blaauwklippen se wynmaker, Narina Cloete, was gereed met die wisseltrofee en die wyn-omroeper van Magic 828AM, Guy McDonald, het die spanning laat oploop. Die vier klubs het asem opgehou – twee uit die Wes-Kaap, een uit Gauteng, en een uit Mpumalanga.

Lees meer: Wyn by De Ark

Moenie die jong wynmaker, Narina Cloete, vlak skat nie. Van haar onlangse suksesse, sedert sy by Blaauwklippen aangesluit het, is ‘n Veritas Gold vir haar Zinfandel 2017; die Cabernet Sauvignon 2017 het die Top 10-lys in Suid-Afrika gehaal asook ‘n Michaelangelo – goud vir sowel die Cabernet Sauvignon en die Malbec 2018.

En toe kom die uitslag – Lydenburg Wynproewersgilde wen die 36ste Versnitkompetisie en kry sy naam op die 2018 Blaauwklippen wen-bottel. Agterop staan daar: Hierdie meesterlik vervaardigde versnit deur die Lydenburg Wynproewersgilde met 48 persent Zinfandel, 32 persent Merlot, 10 persent Petit Verdot en 10 persent Shiraz, is gekies as die wenner uit 77 deelnemers en slegs ‘n beperkte oplaag van 1 200 bottels is geproduseer.

Die Gilde se president, dr. Jakkie Swanepoel, glimlag maklik. Maar dié glimlag was letterlik van oor tot oor.

Back to top button