Geliefde inwoner sterf net voor 100 jaar

In 1976 toe die stad 90 jaar oud was, was sy ‘n eregas met die onthulling van die borsbeelde van die twee in die nuwe Johannesburgse stadsentrum.

MBOMBELA – Tannie Ansie Swart, een van die oudste inwoners van Barberton en burgemeestersvrou in die jare sewentig is dié maand oorlede. Sy sou binnekort haar 100ste lewensjaar vier. Die gebore Mapoglander, ‘n nooi Joubert, is van Laersdrif.

Sy het aanvanklik skoolgegaan op die plaasskool by Windhoek naby Tonteldoos en toe op Dullstroom, waarna sy aan Hoërskool Lydenburg gematrikuleer het. Sy het in 1939 in Pretoria in die staatsdiens gaan werk. Hier het sy die latere bekende Barbertonse stadsraadslid, Isak, (alombekend as Sakkie of Blackie) Swart ontmoet.

LEES OOK: FOTO’S : Blits-Bos-Braai – die aftelling na Innibos 2019 begin

Hulle is in 1942 getroud. Oom Sakkie is later na Kuruman verplaas. Hier het hy later by die motorbedryf betrokke geraak. Hier is hulle twee seuns ook gebore. Die oudste, ‘n regsstudent aan die Universiteit van Pretoria is in 1964 tragies oorlede in ‘n motorongeluk op pad huis toe. Die gesin het in 1967 na Barberton verhuis.

Tannie Ansie later in haar lewe met haar twee kleinkinders, Stephie en Chani.

Oom Sakkie het ‘n pos in die asbesafdeling van General Mining aanvaar en tannie Ansie het by Old Mutual gewerk, waar sy uiteindelik eers in 1986 uitgetree het. Oom Sakkie was ook stadsraadslid en sy ampstermyn as burgemeester was 1974/75. Hy is in 1978 op die ouderdom van 63 aan ‘n hartaanval oorlede.

LEES OOK: Sielvolle aand wag op Laevelders

Tannie Ansie is in 1993 met Jan Visser, ‘n boer van die omgewing, getroud. Hy is vyf jaar later dood. Sy was ook die agterkleindogter van Christiaan Johannes Joubert, die ZAR-mynkommissaris ten tye van die stigting van Johannesburg. Saam met die landmeter Johann Rissik was hulle die twee Johannesse na wie die stad vernoem is.

In 1976 toe die stad 90 jaar oud was, was sy ‘n eregas met die onthulling van die borsbeelde van die twee in die nuwe Johannesburgse stadsentrum.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version