Local newsNews

KYK: Só word slange hanteer in die Nasionale Krugerwildtuin

Twee video's van hoe slange in die Nasionale Krugerwildtuin hanteer word, maak slangvanger woedend.

MBOMBELA – Plaaslike slangvanger, Anneke van Schoor, was woedend toe sy bewus word van beweerde wanpraktyke rondom slange in die Nasionale Krugerwildtuin (NKW).

Sy het twee videos op Facebook geplaas waarin sy werknemers van dié park daarvan beskuldig dat hulle slange beseer en doodmaak en nie enige ag gee aan die bewaring van die spesie nie.

“Dit word duidelik net as wreedheid gesien wanneer dit wollerige diere is,” het
‘n baie ontstelde Van Schoor laat hoor.

LEES OOK: Snake season is here!

Die een video, wat volgens Van Schoor op 17 Desember geneem is, wys hoe ‘n beweerde werknemer van NKW ‘n slang buite ‘n badkamer in Skukuza vang.

In dit is geweerskote ook hoorbaar en Van Schoor beweer dat een van die slange wat gevang is, geskiet is.

Die ander video, wat op 24 Desember geneem is, wys hoe werknemers van die park poog om ‘n slang uit ‘n boom by dieselfde ruskamp te verwyder.

Dit is duidelik op die beeldmateriaal dat die werknemers poog om die dier aan te val wanneer hy uit die boom val. Wanneer die slang bedreig voel en probeer vlug, word hy met ‘n stok deur ‘n persoon in siviele klere vasgekeer terwyl ‘n parkwerknemer ‘n swartsak soek.

LEES OOK: Man who kept a crocodile and 23 snakes in his bedroom jailed for six months

Volgens NKW se woordvoerder, Isaac Phaahla, is hulle slegs bewus van een van die voorvalle. “Die slang is by die Skukuza-kampterrein gevind en moes veilig verwyder word om die welstand van die kampeerders te verseker,” het Phaahla gesê.

Volgens hom was die verwydering van die slang nie gewelddadig nie, maar in ooreenstemming met wat die omstandighede vereis het en niemand is berispe vir die voorval nie.

As deel van Lowveld Venom Suppliers en as opgeleide slangvanger het Van Schoor aangebied om self opleiding aan werknemers van die wildtuin te verskaf. Dit is egter deur Phaahla van die hand gewys.

Hy het aan die koerant gesê dat die bewaarders in die park beide gewone en gevorderde opleiding ontvang om slange te kan hanteer. “Die park is ‘n wilde gebied en slange kom natuurlik voor. Ons bestuur ‘n ekosisteem en het nie spesifieke beleide vir enige individuele spesies nie.”

Indien enige besoeker van soortgelyke gevalle in ‘n kamp bewus word kan hulle die bestuurder aan diens by die kamp of 013-735-0197 skakel om die voorval aan te meld.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Check Also
Close
Back to top button