VIDEO: Petrovna verwesenlik jare lange droom met nuwe Ingrid-boek

Die skrywer Petrovna Metelerkamp het Dinsdagaand oor haar nuutste boek by Laevelder se Pen in my Hand-geleentheid kom gesels.

MBOMBELA – In 1994, net nadat Nelson Mandela Ingrid Jonker se gedig by sy inhuldiging voorgedra het, begin hierdie enigmatiese literêre figuur aan Petrovna Metelerkamp se hartsnare trek. Petrovna, destyds nog joernalis by Insig, begin een na die ander artikel oor Jonker skryf.

Petrovna Metelerkamp.

Navorsing vir hierdie artikels lei jare later na ‘n fotoboek oor Jonker se lewe en vanjaar sien Metelerkamp se boek Ingrid Jonker: ‘n Biografie die lig wat poog om die volle waarheid oor Jonker se lewe met almal se deel. Metelerkamp het met Marius Bakkes oor die boek kom gesels by Laevelder se gewilde Pen in my Hand-geleentheid wat maandeliks by A Bica-koffiewinkel gehou word.

Volgens Metelerkamp het sy reeds vroeg in haar lewe geweet sy wil ‘n skrywer wees. “My tannie was ‘n skrywer,” verduidelik sy en voeg by dat wanneer sy by haar tannie gaan kuier het, Uys Krige op die stoep besig was om gedigte voor te dra en sigare te rook terwyl die Tassenberg vloei en klassieke musiek deur die huis weerklink.

“En ek’s vier jaar oud en ek gaan ‘n skrywer word. Ek gaan ‘n skrywer word want my tannie is ‘n skrywer en sy is my held,” sê Metelerkamp.

LEES OOK: Pen in my Hand to welcome Ruda Landman at Innibos

Gedurende jare se navorsing vir die boek het sy baie “interessante karakters ontmoet wat tot die storie kon bydra”. Voorbeelde hiervan is Salomé Louw, die vrou wat André P Brink bo Jonker gekies het en ook Jonker se jare lange vriendin Anne Goliath. Jonker se suster Anna en haar dogter Simone was ook as bronne gebruik vir die boek.

Volgens Metelerkamp is die boek ‘n storie “want mense hou van stories; dit laat hulle omgee”. Die vraag, “En wat het toe gebeur, daai nag toe sy dood is,” het Metelerkamp al menigmaal gehoor.

Petrovna Metelerkamp.

“Ingrid was ‘n baie dramatiese mens en sy het alles in die oortreffende trap beleef. Sy sou nie sê ‘Ek voel nie lekker nie’, maar eerder ‘ek wil sterf’. In ‘n brief kort voor haar dood vertel sy ook sy beplan om pille te drink wat haar verdoof en gaan dan in die see in loop. Of dit werklik die geval was, sal niemand ooit kan weet nie want niemand was daar nie,” sê Metelerkamp.

LEES OOK: Pen in my Hand: Beleef ‘n boeiende aand met skrywer en verteller

Beide Jonker en Metelerkamp het hulself as literêre juwele in die Suid-Afrikaanse letterkundekringe gevestig en dit is dus baie gepas dat Metelerkamp aan Jonker hulde kan bring. Die raaisels rondom Jonker mag dalk nooit opgelos word nie, maar die boek bied insig oor haar daaglikse lewe, poësie, die mans in haar lewe en die oorweldigende liefde vir haar enigste kind.

• Moenie ons volgende Pen in my Hand-geleentheid op 26 Julie misloop nie. Die gewilde radioman en skrywer Izak du Plessis kom oor sy jongste boek getiteld Ralph Haynes, Godfather van die Wes-Rand gesels. Toegang beloop R50 per persoon en sluit aandete in. Die geleentheid word weer by A Bica-koffiewinkel gehou. Bespreek by 062-422-6842.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version