AnimalsEnvironmentalLocal newsNewsNews

Simpatie vir kameelperd met vreemde groeisels

Vratte word as 'n reël met paddas geassosieër, daarom was 'n plaaslike gesin onlangs onthuts deur die gesig van 'n kampeelperd wie se lang lyf met vratte oortrek was.

SKUKUZA – Gazelle van de Venter, ‘n gr. 11-leerder van Hoërskool Nelspruit en haar ouers het op 20 Augustus ongeveer 12 kilometer van Krokodilbrug af op die S25 gery toe hulle op hierdie kameelperd afgekom het.

“Dit is iets wat ons nog nooit voorheen gesien het nie en is sekerlik ‘n rare verskynsel,” sê sy van die dier waarvan die liggaam met vratte bedek was.

“Dit wou voorkom of sy nog jonk is, aangesien sy baie kleiner as die res van die groep was.”

Gazelle sê hoewel dit ‘n baie interessante gesig was, hulle tog hartseer was om so iets te sien.

‘n Afrikaanse dagblad het ook onlangs melding gemaak van ‘n soortgelyke foto wat besoekers op die S39 tussen Roodewal en Timbavati geneem het.

Dit is onduidelik of dit dieselfde dier is. Nadat dr. Peter Buss, senior veeartseny bestuurder op Skukuza, albei foto’s onder oë gehad het, het hy laat weet dat dit moontlik verskillende diere mag wees. “Aangesien die foto’s vanuit verskillende hoeke geneem is, is dit onmoontlik om identiteit daarvolgens vas te stel.

“Kameelperde wei egter gewoonlik slegs binne ‘n omgewing van sowat 25 vierkante kilometer, dus dui die afstand tussen die plekke waar die foto’s geneem is daarop dat dit  dalk nie dieselfde dier is nie.”

Back to top button