AnimalsEditor's choiceLocal newsNewsNews

Kleingeld kan epidemie van rondlopers beëindig

Die geld gaan alles aangewend word om veeartskostes vir die regmaak van die rondloperdiere te dek. Dit is al hoe 'n mens gaan verhoed dat die probleem nog verder handuit ruk.

LYDENBURG – Hoe kan ‘n skamele R5 wat in jou handsak of kar rondlê ‘n verskil in die dorp maak?

Dit mag dalk nie na veel klink nie, maar dié kleingeld kan bydra om ‘n einde aan die dorp se rondloperhonde en -katte te maak.

Cathy Schutte van Home 4 Paws het dié projek begin om die aanwas van straathonde en -katte te probeer hokslaan. Volgens Schutte is daar ‘n pandemie van honde en katte in die dorp. “My hokke is gedurig vol. Ongesteriliseerde diere is ‘n groot probleem in die dorp.

“Daar word gereeld op Facebook en ander sosiale media klein katjies en hondjies geadverteer ‘gratis’ vir ‘n goeie huis. Hulle bly nie altyd klein nie en gaan op hittte kom. Die ongewenste diere is gewoonlik dié wat by my in die skuiling opeindig.

“Die geld gaan alles aangewend word om veeartskostes vir die regmaak van die rondloperdiere te dek. Dit is al hoe ‘n mens gaan verhoed dat die probleem nog verder handuit ruk,” sê Schutte.

Dit is hoekom al Home 4 Paws se diere reggemaak word voor hulle aangeneem word. Daar is by verskillende besighede R5-houers geplaas waarin mense die muntstukke kan gooi.
Dit sluit onder andere in die kantoor van Steelburger/Lydenburg Nuus, Pick n Pay Lydenburg, Obaro, Imbali-kwekery, Spur, Bakgat Biltong, Okus, Hannas, Otees, Amajaybee en the Courier Guy.

MEER INLIGTING:
Volgens die Landbouweekblad kan wyfiekatte ‘n paar keer per jaar op hitte kom (estrussiklus), van die lente tot die laat herfs. Hitteperiodes kom elke twee weke voor en duur van vier tot sewe dae. Katte is 64 tot 67 dae lank dragtig en daar is gewoonlik drie tot vyf katjies in ‘n werpsel.

Die eerste werpsel is gewoonlik kleiner as lateres. Die katjies drink ses tot sewe weke aan die ma en is binne vyf tot 10 maande (wyfies) of vyf tot sewe maande (mannetjies) geslagsryp, hoewel dit van ras tot ras kan wissel. Wyfies kan twee tot drie werpsels per jaar en dus tot 150 kleintjies hê in die sowat 10 jaar wat hulle vrugbaar is.
Die gemiddelde ouderdom vir ‘n hond om puberteit te bereik, is ses maande maar wissel by verskillende rasse. Kleiner rasse is geneig om hulle eerste estrussiklus op ‘n jonger ouderdom te hê, terwyl ouer en groot rasse eers op 18 maande en selfs eers op twee jaar op hitte te kom.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Check Also
Close
Back to top button