AnimalsEnvironmentalNews

Diere sterilisasies

BURGERSFORT – Rondloperhonde en -katte teel by dosyne in die dorp aan, maar die inwoners dra tot die probleem by deur nie hulle diere te steriliseer nie. Die hartseer hiervan is dat baie diere op straat opeindig wanneer hulle ‘n las vir hul eienaars word. Sommiges beweer dat steriliasie baie duur is en hulle dit …

BURGERSFORT – Rondloperhonde en -katte teel by dosyne in die dorp aan, maar die inwoners dra tot die probleem by deur nie hulle diere te steriliseer nie.

Die hartseer hiervan is dat baie diere op straat opeindig wanneer hulle ‘n las vir hul eienaars word. Sommiges beweer dat steriliasie baie duur is en hulle dit nie kan bekostig nie.

Volgens dr. Charlene Klopper, veearts van Thaba Phala Dierekliniek op die dorp, is dit ‘n saak van kommer. “Honde en katte bereik puberteit teen ongeveer ses maande wat dan ook ‘n goeie tyd is om hulle te steriliseer om voortplanting te voorkom. Ek verkies om grootras-honde op 12 tot 18 maande te steriliseer wanneer hulle uitgegroei is.”

Klopper beveel aan dat katmannetjies en kleiner reunhonde op die ouderdom van agt maande gekastreer word om die kanse van urethrablokkasies as gevolg van urienkristalle te verminder. “Diere wat gesteriliseer is leef langer, ” sê Klopper. Sterilisasies van tefies op ‘n jong ouderdom kan baarmoederinfeksies voorkom en dit verminder melkklierkanker later in hul lewens. Kastrasies van reunhonde verminder die kanse op prostaatkanker, sê sy. “Mannetjieskatte wat gekastreer is, raak rustiger.”

Die afwesigheid van ‘n Dierebeskermingsvereniging (DBV) op die dorp is ‘n kwelpunt en ‘n groot behoefte. Sy raai mense aan om weggooidiere na Polokwane se DBV te neem. “Mense skakel ons gereeld oor rondloperdiere. Ek sal graag wil help, maar ongelukkig het ek ‘n privaatpraktyk. Ek ontvang nie fondse van die staat of ander organisasies en kan ongelukkig nie al die kostes op my eie dra nie. Die hospitaal by my praktyk is daar vir die behandeling van siek diere en kan nie ‘n tydelike hawe vir diere wees nie.”

Klopper sien ook ‘n duidelike toename in rondloperdiere omdat mense verhuis en hulle ongesteriliseerde diere agterlaat. Dit veroorsaak weer dat hulle net verder aanteel. Sy is egter positief oor die aantal mense wat wel hul diere laat steriliseer.

“Ek is bly om te sê dat ons kliënte na die belange van hulle diere omsien. Ek wil graag kliënte soos Aisha Abdullah bedank dat hulle omsien na die welsyn van ons straatdiere deur hulle te bring vir sterilisasies.”

20161122_143142[1] 20161205_130521(0)

Back to top button