ElectionsNewsNews

VF+ stig tak in Mbombela

Die party se provinsiale leier, mnr. Werner Weber, het gesê die politieke landskap het die afgelope paar jaar totaal verander.

MBOMBELA – Vir die eerste keer ooit is daar nou ‘n volwaardige Vryheidsfront Plus-(VF+) tak in die stad. Dit is Saterdag by Nadine’s- koffiewinkel gestig.

Die party se provinsiale leier, mnr. Werner Weber, het gesê die politieke landskap het die afgelope paar jaar totaal verander. Soos die VF+ se konstitusie bepaal, is die vergadering met Skriflesing en gebed geopen, anders sou dit nie geldig wees nie.

Die 10 manne en vroue het vergader oor strategiese planne vir die verkiesing wat op 3 Augustus oor ongeveer twee maande plaasvind.

“Alles wat jy is, jou kerk, skool, plaas, besigheid, daarvoor staan die VF+,” het Weber gesê. “Dit gaan nie net oor die Afrikaner of vyandskap met swart mense nie. Glad nie.

“Ons beywer onsself vir goeie verhoudinge. Ons is in konstante gesprek. Maar ons het ook belange en regte en is bereid om vreesloos daarvoor op te staan.”

Mnr. Henk Cilliers is die party se burgemeesterskandidaat vir Mbombela-munisipaliteit. Hy het gesê hy was nog nooit by politiek betrokke nie, en toe hy aanvanklik is vir die posisie genader, het hy dit van die hand gewys.

Mnre. Henk Cilliers en Werner Weber.
Mnre. Henk Cilliers en Werner Weber.

Die Bybel-teksgedeelte, Jeremia 24, het hom egter van plan laat verander, omdat hy nie die “volstruistaktiek” wil gebruik nie. “Ek het gedink ek het afgetree. Maar, ek het soveel jare se sakekennis, ek kan ‘n verskil maak.”

Cilliers praat siSwati en Zoeloe. Hy was voorheen ‘n tabakboer in die Ermelo-omgewing, was betrokke in dorpsontwikkeling, die brandstofbedryf, die lugmag en die ondersteuning van sendingwerkers.

Tans bedryf hy ‘n wildsplaas langs die N4 in die reservaat by Mara. Hy is ook betrokke by burgerregteorganisasies soos AfriForum, Solidariteit en die ATKV. Hulle het egter nie ‘n politieke platform nie, en die

VF+ poog om juis dit te bied. “My taal en my kultuur moet óók beskerm word,” sê hy.

“As ‘n Christen is die VF+ moreel die enigste party wat ek kan verteenwoordig. Ek kan nie aandadig daarin wees dat babatjies doodgemaak mag word nie.”

Die party ondersteun nie regstellende-aksie, swart-bemagtiging, rassekwotas, grond-hervorming of aborsie nie.

Weber verduidelik dat die belange van swart, bruin en Indiërmense nie uitgesluit word nie, maar die fokus is op gespreksvoering. “Ons wil nie ‘n minderheid in ons eie party word nie,” sê hy.

“Die DA van twee jaar gelede betaan nie meer nie. Dit is nie meer ‘n wit party nie. Om vir die DA te stem as jy wit is, is nie rasionele optrede nie. Die DA wil die ANC help om te keer dat jou kind ‘n werk kry.

“Ons is nie ‘n radikale party nie, ons is gematig. Ons verteenwoordigers in die parlement praat met waardig-heid en sit goeddeurdenkte argumente op die tafel. Vir daardie party wil ek ondersteun.”

Cilliers sê ‘n groot aan-kondiging, van oorlopery van die DA na die VF+ sal op 1 Julie aangekondig word.

Maar kan opposisiepartye ‘n verskil maak? “My hoofdoel is om in komitees ‘n verskil te kan maak. In die raad kan ‘n minderheid niks doen nie. Ek wil ‘n verhouding bou met besluitnemers en deur vertroue in te boesem ‘n verskil maak op voetsoolvlak deur insette te lewer.

“Ek is bekend as ‘n probleem-oplosser. Ek lewer graag insette vir verandering in mense se lewens.”

Navrae: Vivienne Krikke by viviennekrikke@yahoo.co.uk.

Back to top button