Meer as 80 diere uitgesit by DBV Nelspruit na waarskuwing van DBV se hoofkantoor

Nelspruit se DBV se sake is nie in orde nie. Die DBV Barberton en DBV Witrivier moes ingryp om 'n einde aan oorvol hokke te maak.

MBOMBELA – Alles is nie pluis by die Dierebeskermingsvereniging (DBV) se Nelspruittak nie en ‘n ondersoek in die verband het ernstige kwessies uitgelig. Die situasie het so handuit geruk dat meer as 80 diere einde April van kant gemaak moes word.

Die nasionale hoofkantoor van die DBV het op 26 April deur hul nasionale sekretaris, Lorraine Horn, die Barberton DBV opdrag gegee om ondersoek in te stel omdat die hokke te vol was. Dié ondersoek is deur leerlinginspekteur, Marcel Hoffman, wat ook voorsitter van die Barbertontak is, gelei.

Hoffman het bevind dat die hokke oorvol was en dat drie tot vier honde saam in ‘n hok gehuisves is. Die herstelkamer het ‘n ongekende getal van 44 katte gehuisves. Die tak het 50 hondehokke wat gewoonlik 50 tot 100 honde huisves met 30 eenhede vir katte.

Tydens ‘n liefdadigheidsbesoek van Laevelder se personeel op 21 April het ‘n personeellid besoekers meegedeel dat daar die afgelope twee maande te eniger tyd tot sowat 150 honde en 220 katte op die perseel was.

Hoffman het aan Laevelder gesê dat diere se welsyn hieronder gely het. Sy het ‘n gedetailleerde verslag aan die nasionale kantoor gestuur en ‘n waarskuwing is aan een van die personeellede van die Nelspruit DBV uitgereik in terme van die Dierebeskermingswet. Die personeellid is deel van die span wat vir die hondehokke verantwoordelik is.

Die voorsitter van die Nelspruit DBV, mnr. Louie Amorim, het dit onnodig gevind om dissiplinêr teen sy personeel op te tree. “Dit is nie hulle skuld nie,” het hy gesê.

Hoffman sê onder sulke verslegtende omstandighede baklei diere maklik en versprei siektes vinnig. ‘n Onmiddellike oplossing moes gevind word. Tydens haar inspeksie het twee honde in ‘n oorvol hok mekaar juis gepak en een is so ernstig gebyt dat hy dadelik uitgesit moes word om verdere lyding te voorkom.

Amorim was net 10 minute gedurende die inspeksie teenwoordig terwyl Hoffman tot na 21:00 daardie aand aan diens was om die tak se probleme aan te spreek. Inspekteur Michelle van Wyk van Witrivier DBV het Hoffman op die 28ste gehelp om diere uit te sit.

Amorim sê dat die hokke oorvol was omdat die veearts, wat gewoonlik diere uitsit en toesig oor die genadedoodproses hou, tydens die week van 18 tot 23 April uitstedig was.

As gevolg van koste maak die Nelspruit DBV net van een veearts gebruik. Die diere het dus te veel vir die aantal hokke geword.

Alhoewel die Nelspruit DBV se inspekteur, Deon Combrinck, gekwalifiseer is om diere uit te sit, mag hy dit tans net onder toesig van ‘n veearts doen. Sy kwalifikasie is sedert sy skuif vanaf Uitenhage DBV na Nelspruit in Oktober 2015 nog nie deur SAVR, die toesighoudende veeartsenykundige instelling vir dierewelsyn, geregistreer nie.

Volgens Amorim is sake vererger deurdat die Witrivier DBV en Nelspruit DBV amptelik vanaf 1 April geskei is.

Die dienste van die Witrivier-inspekteur wat wel diere mag uitsit, is volgens hom nie meer geredelik tot sy beskikking nie.

“Dis ‘n moeilike situasie as jy geen dier mag wegwys nie. Ons is ook die munisipale skut per kontrak met Mbombela Munisipaliteit en moet die hondevanger se diere wat hy optel, inneem,” het Amorim gesê.

Vir Hoffman is dit geen verskoning nie. Sy glo dat goeie bestuur hierdie probleme kan ondervang en ook dat “enige ander veearts in Nelspruit sou help”.

Sy is ontsteld dat die Nelspruit DBV ten spyte van verslegtende toestande ook nie hulp by een van die ander ses DBV’s in die provinsie gevra het nie.

DBV’s word gebind deur die Wet op die DBV, No. 169 van 1993 en mag daarvolgens geen dier wegwys nie. Die DBV se takke verskil van prolewe-reddingsorganisasies wat wel diere mag wegwys.

“Die Nelspruit DBV is al in die verlede deur die hoofkantoor en ‘n senior inspekteur gehelp toe die hokke oorvol geraak het. Dit het al drie keer gebeur. Dit kan nie elke ses maande so aangaan nie,” het Hoffman verduidelik. Sy is daarteen gekant dat enige tak van die DBV gesluit word net omdat die publiek ontsteld raak oor die aantal diere wat uitgesit word.

“Dit sal net lyding verleng en noodsaaklike inspeksiedienste soos besoeke aan slagpale inkort.”

Me. Marcelle Meredith, uitvoerende hoofbestuurder van die hoofkantoor van die DBV, sê dat die hoofkantoor nie verantwoordelikheid neem vir die dag-tot-dag bestuur van takke nie aangesien hul selfstandige eenhede is.

“Elkeen maak sy eie bestuurbesluite,” het sy verduidelik. Die hoofkantoor moet egter op klagtes reageer en daarom het mnr. Jaco Pieterse opdrag gekry om ‘n inspeksie aan te vra. Pieterse het op Hoffman se verslag gereageer deur aan die Nelspruit DBV ‘n brief te skryf waarin hy die hoofkantoor se diepe teleurstelling met die situasie uitspreek, veral oor die feit dat daar 100 honde in die DBV se sorg was terwyl daar net plek vir 50 was.

Hy het ook ‘n waarskuwing aan die Nelspruit DBV gerig dat, indien samewerking nie gegee word nie, die nasionale raad in terme van die DBV Wet Nommer 169 van 1993 sal moet optree. Volgens die bepalings kan die raad ‘n DBV-tak deregistreer wat nie aan ‘n waarskuwing gehoor gee nie, of die lede of die voorsitter skors sowel as die samestelling van die bestuurskomitee verander.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version