Hard newsNews

Verloofde se grootste vrees bewaarheid

Motorfietse is onveilig. Ek het 'n gevoel gehad dat iets aaklig sou gebeur

MBOMBELA – ‘n Man wat sy motorfiets aan ‘n voornemende koper gaan wys het, is dood nadat hy Sondagmiddag daarmee in ‘n ongeluk was. Hy het besluit om dit te verkoop nadat sy verloofde hom net die vorige dag gemaan het dat sy bekommerd oor sy veiligheid was omdat motorfietse “gevaarlik” is.

Mnr. Renier van Vuren (31) was in die stad se rigting onderweg toe hy omstreeks 17:00 op die N4 voor I’langa Mall in ‘n botsing met ‘n bakkie betrokke was.

Volgens sy verloofde, me. Karen Wiid, het mense op die toneel aan haar gesê dat ‘n bakkie wat vanuit I’langa Mall op die N4 gedraai het, Van Vuren se motorfiets getref het. Hy het beheer daaroor verloor en in ‘n voetganger vasgery voordat hy van die motorfiets geslinger is.

Die voetganger is na ‘n nabygeleë hospitaal geneem, maar is na wat verneem word, reeds ontslaan.

Paramedici het sowat ‘n uur gespook om Van Vuren by te bring, maar vergeefs. Hy is op die toneel dood verklaar. “Ek vermoed hy het sy nek gebreek,” het Wiid verslae vertel. ‘n Nadoodse ondersoek sou eers gister op hom uitgevoer word.

Lees ook: Vrou en ongebore baba se dood ruk gemeenskap

Van Vuren het Saterdagoggend op sy Facebook-profiel sy liefde aan Wiid betuig, waarop dié geantwoord het: “Liefie, jy gaan nie ‘n ander motorfiets koop nie. Asb. Dis onveilig en ek belowe jou, ek gaan dit aan die brand (sic).”

Wiid het verduidelik: “Motorfietse is onveilig. Ek het ‘n gevoel gehad dat iets aaklig sou gebeur.” Sy het haar bekommernis hieroor met Van Vuren gedeel en hy het toe besluit om dit te verkoop. “Hy het dit aan ‘n voornemende koper gaan wys en op pad terug toe gebeur dit,” het sy gehuil.

Sy is ‘n bekende gesig in die stad – haar pa, Abrie, het Steiltes Apteek besit en Wiid is nog werksaam daar. “Ons het hier in die apteek ontmoet. Hy het sy pa se pille kom haal en gesê ek is sy trouvrou. Hy was genuine die liefde van my lewe,” het Wiid bygevoeg. Hulle was sowat twee jaar lank ‘n paartjie.

Haar pa is vroeër vanjaar oorlede en sy self was ernstig siek en lank in die hospitaal. “Hy het so mooi na my en my pa gekyk toe ons siek was. Hy sou sy laaste onderbroek weggee. Dit was die tipe mens wat hy was,” het sy gehuil. “Dis aaklig. Ek het nie woorde nie.”

Lees ook: Vrou wat ongeluk in Ferreirastraat aanskou deel haar ervaring

Kapt. Dawie Pretorius, die stad se polisiewoordvoerder, het by navraag gesê dat ‘n saak van strafbare manslag ondersoek word, maar dat niemand nog in verband met die voorval in hegtenis geneem is nie.

Van Vuren was by Steve’s Auto Clinic werksaam. Hy laat ook die volgende mense agter: mnr. Tim van Vuren (pa), me. Ria van Vuren (ma), mnr. Werner van Vuren (broer), me. Desiree van Vuren (skoonsuster) asook sy seuntjie, Ruan Fouché (8).

“Sterker as jy het ons nie geken nie, Renier. Jy het altyd die beste uit ‘n situasie gebring. Ons vra ‘hoekom so vroeg?’, maar weet dis die Here se doel, want Hy pluk altyd sy mooiste blomme eerste! Ons mis jou. Rus in vrede.”

Die roudiens se reëlings was teen druktyd nog nie gefinaliseer nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button