Local newsNews

Op die spoor van die perde van weleer

Sy het diep spore op menige paaie gaan trap wat deesdae onbewandel in die stof van die Afrikaner se gisters lê, maar, meer as dit, het sy 'n spoor gelos vir ander om te volg.

BARBERTON – Digter, skrywer en lektor van die 19de eeu, Ralph Waldo Emerson, het gesê, “Do not go where the path may lead, go instead where there is no path and leave a trail.”

Só ‘n vrou is Juliette Whelpton – en hierdie joernalis behoort te weet aangesien die vriendskap tussen hulle al oor meer as drie dekades strek.

Juliette is ‘n passievolle vrou en skrywer wat die laaste paar jaar geen steen onaangeroer gelaat het om haar doel te bereik nie. Sy het diep spore op menige paaie gaan trap wat deesdae onbewandel in die stof van die Afrikaner se gisters lê, maar, meer as dit, het sy ‘n spoor gelos vir ander om te volg.

Lesers wat Barberton Times se blog “Uit die stof aan ons hoewe” verlede jaar gevolg het, het reeds aanlyn met haar kennis gemaak en sal onthou dat sy die geskiedkundige gebeurtenis, Herdenkingsrit 2015, gedokumenteer het. Barberton Times het ook genoem dat die navorsing vir haar volgende boek haar onder andere na Barberton gaan bring.

Juliette is ‘n gekwalifiseerde sielkundige en spesialiseer in navorsingskonsultasie, perd-assisterende berading en natuurlike genesing. Sy is die stigter van Healing Hooves, ‘n maatskappy wat programme aan individue en groepe, asook uitreikprogramme aan gemeenskappe in nood bied.

Hierdie voormalige luitenant-kolonel van die SAPD, wat gesout is in die behandeling van traumaslagoffers, het ‘n diep liefde vir perde en veral vir die rol wat hierdie edele diere gespeel het in die geskiedenis. Sy is ‘n gesertifiseerde lid van Eagala (Equine Assisted Growth and Learning Association) en haar tesis het gehandel oor perde, mense, geskiedenis en genesing.

“Perde het ‘n geweldige belangrike rol gespeel in die geskiedenis. Kyk na die grootste slagting van perde in die geskiedenis, die Anglo-Boereoorlog, waartydens meer as 500 000 perde gesterf het. Meer as dit is perde ‘n simbool van krag en wanneer perde as terapie deur middel van interaksie gebruik word, vind slagoffers van trauma dikwels dat die hulpmiddels wat hulle nodig het om genesing te vind, reeds binne hulleself is,” sê Juliette.

Sy het haar solonavorsingstog vir die eerste boek in die Helde met Hoewereeks, getiteld Fleur, in 2012 aangepak. Fleur, die getroue Arabierperd van genl. Christiaan de Wet, word vertel uit die perd se bek. Dit neem die leser op ‘n reis deur die verlede tydens die Anglo-Boereoorlog, saam met dapper manne, verkenners en vierpotige helde. In haar tweede boek in die reeks, Bokkie, vertel hierdie legendariese perd van genl. Koos de la Rey ook sy eie storie. Die bekende Anglo-Boereoorlogkenner, prof. Fransjohan Pretorius het Juliette gekomplimenteer met haar vermoë om in Fleur se kop te kon klim en oor Bokkie het hy gesê dit is “‘n pragtige oorspronklike verhaal, sensitief en met deernis geskryf”.

Die bevoorregtes wat reeds van haar boeke gelees het, is dit almal eens dat hulle nie kan wag vir die derde boek nie – en dit is hoekom Juliette, vergesel van haar jonste dogter Carla, al die afgelope twee weke in Mpumalanga op die spoor is van Dapper, die oorlogsperd van gen. Louis Botha.

Verlede Donderdag het sy dit dan ook inderdaad reggekry om in Dapper se hoefspore te trap toe sy Barberton besoek het.

“Dapper was die voorloper van die Boerperde en sy hoewe het hierdie strate van Barberton, toe dit nog nie strate was nie, deurgetrap. Ons is al agter hierdie perd aan. Ons het al die slagvelde gaan besoek, ons was op Longtompas en ek het van voor af respek gekry vir die diere – nie net die perde nie, maar die trekosse ook! Dis ongelooflik om die hellings te sien waar hulle op en af was met daardie swaar, swaar tonne rotse,” vertel Juliette.

In Kaapsehoop het hulle deel gehad aan die Kaapsehoop-perdeproewe. Sy sê dat die perde – kruisings tussen Percheron-Clydesdale en Boerperde – sowat 700- tot 800kg elk weeg.

“Ons het op ‘n uitrit gegaan saam met ons gids Leon van Kaapsehoop Horse Trails en ek het op Jack, ‘n vierjarige Boerperd/Clydesdale-kruising gery. Sonder waarskuwing het Leon ons teen ‘n steil rotsagtige helling afgelei en ek het gebid met oop oë – te bang om die skoonheid rondom ons te mis.

“Ek het Jack volle teuels gegee sodat hierdie 800kg-perd die dink- én die doenwerk kon doen. Nou weet ek ook hoe Louis Botha en die kommando vir Dapper en die ander perde moes vertrou in hierdie ongerepte ruwwe rotsagtige wêreld waar mens meestal in digte mis toegevou is,”

Juliette sê dat hierdie hele ervaring haar net weer laat besef het hoe moeilik die omstandighede was waaronder ‘n kommando van 600 perde en ruiters met swaar kannonne moes opereer. “Boonop is die pad nou al uitgery. Daardie tyd was daar niks. Toe ons die dorp nader, was die mis so dig dat ek nou kan verstaan dat die kommando-ruiters mekaar nie vier meter ver kon sien nie. Ek kan net dink hoe dit moes gelyk het wanneer daar 600 ruiters uit hierdie mis moes verskyn – en nou kan ek ook verstaan hoe hulle dit reggekry het om te kon vlug om voor daardie magdom Britte weg te kom.” Sy maak nie afsprake met mense in elke dorp wat sy besoek nie. “In sommige dorpe identifiseer ek mense, maar vir die res, soos Barberton, het ek nie spesifieke planne nie. Die idee is om van die plekke oop te laat vir avontuur, want dit is tog deel van die ontdekkingsreis,”

Juliette en Carla is na ‘n draai by die museum, reguit na Regiment Botha, vernoem na gen. Louis Botha. Daar is hulle deur lt. kol. Dries Joubert ontvang. “Hy was ‘n ongelooflike bron van inligting en het my so baie vertel en soveel moeite gedoen. Ek kan hom nie genoeg bedank nie,” sê sy.

Barberton se lesers kan maar solank hulle brille afstof, want Dapper is om die draai. “Ek wil nog nie ‘n datum gee nie, maar dit sal binnekort wees,” belowe Juliette.

Fleur en Bokkie is tans by Grafitti Zambezi Junction en die Afrikaanse winkel by die Erfenisstigting op die terrein van die Voortrekkermonument beskikbaar, of jy kan dit aanlyn bekom op die webwerfboekwinkel, www.groep7.co.za. Dit kan ook direk vanaf die skrywer bestel word, by juliette@researchconsultant.co.za. Beide boeke is ook in Engels beskikbaar.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button