AnimalsHard newsLocal newsNewsNews

Laer spoedbeperkings kan perde red

Laer spoedbeperkings op die pad wat verby die ingang na Kaapsehoop loop is dalk een van die oplossings om die wilde perde se welstand en oorlewing te verseker.

KAAPSEHOOP – Twee borge het na vore gekom na ‘n onlangse berig in Laevelder oor die wilde perde se benarde situasie. Waarskuwingsborde wat motoriste sal waarsku teen dié diere gaan nou op die pad vanaf Komatiland Forests na dié dorpie aangebring word.

Daar word ook beoog om later borde aan te bring wat besoekers sal maan om liefs nie die perde te voer nie.

Me. Reinette van Niekerk, vrywilliger wat al sedert 2005 met hulle versorging werk, het die borge sowel as al die skenkers hartlik bedank vir die morele en finansiële ondersteuning wat die berig geïnspireer het. Vele fondse sal egter nog benodig word om die deurlopende welstand te verseker.

“Ek is diep, diep dankbaar. Dit maak ‘n reuseverskil aan wat ons doen,” sê Van Niekerk.

Me. Marcelle Hoffman, voorsitter en instrukteur van vrywilligers van die DBV op Barberton, glo die yster moet gesmee word terwyl dit warm is.

Sy het Woensdag reeds Mbombela se verkeersafdeling geskakel sodat hulle ‘n voorstel van die DBV kan oorweeg om die snelheidsgrens in die omgewing van 100km/h na 60km/h te verminder en die geborgde borde met hierdie nuwes te vervang.

“Hulle was baie tegemoetkomend. Ons geskrewe versoek is reeds in, sodat hulle dit aan die provinsiale verkeersdepartment kan rig.”

Sy het in haar aansoek ook voorgestel dat spoedhobbels in die omgewing aangebring word. As sy haar sin kry, sal kennisgewingborde spesifiek aandui dat daar wilde perde is.

“Die illustrasie daarop moet van perde op hul agterbene wees. Nie gewone plaasperde op vier pote nie.” Hoffman is ontsteld oor al die beserings en sterftes as gevolg van motorongelukke op die pad omdat sy die wilde perde van Kaapsehoop as ‘n waardevolle deel van ons erfenis beskou.vulletjie kar (Large)

“Mense moet besef as die perde verdwyn, sink die ekonomie van dié klein dorpie. En as ‘n mens gereeld met die outjies werk wat dorp toe kom, raak jy buitendien lief vir hul persoonlikhede. Jy wil hulle nie verloor nie.”

Wat haar as ‘n verteenwoordiger van die DBV werklik kwaad maak, is juis mense, veral besoekers, wat hulle in die dorpie voer.

“As jy maar weet hoeveel plastiek ons in die perdemis kry! En ‘n perd se maag verskil drasties van vele ander diere s’n. ‘n Perd kan nie iets uitspoeg nie en die plastiese verpakking kan hulle dus laat versmoor. Onlangs het ‘n inwoner gesien hoe ‘n vrou een van die perde ‘n hele pakkie soet beskuitjies, nog in die verpakking, voer. Dis ongehoord! Jy sal nie ‘n sebra in die wildtuin voer nie. Hoekom dan ‘n wilde perd uit jou kar voer?”

Daar is ook hoop om die bosluise, wat die perde so teister, onder beheer te bring.Hoffman het vertel dat vrywilligers nou ‘n verfbalgeweer inspan om deur middel van bolletjies die perde met bosluisdipmiddel te spuit.

“So kan ‘n skoot na die perde gewaag word wat ons nie so maklik in die hande kan kry nie. Die sakkie dipmiddel breek dan teen die lyf en die perd kan ‘n beter kans kry om van bosluise ontslae te raak.”

Hoffman se droom is om saam met Van Niekerk fondsinsamelingsveldtogte te hou. Sy het reeds aangebied om die volgende vul wat in Kaapsehoop gebore word, aan te neem en stel voor dat só ‘n aannemingsplan moontlik ‘n goeie oplossing vir die toekoms kan wees.

Wilde perde by Kaapsehoop het geen verweer teen motoriste wat op die paaie rondom die dorpie nie  op die uitkyk vir hulle is nie.
Wilde perde by Kaapsehoop het geen verweer teen motoriste wat op die paaie rondom die dorpie nie op die uitkyk vir hulle is nie.

“Dis ons erfenis as ‘n gemeenskap en ons moet dit oppas,” sê Hoffman.

Steeds is daar onduidelikheid wie vir die perde se versorging verantwoordelik gehou moet word.

Laevelder het die kantoor van die staatveearts vir kommentaar genader, maar niks is teen druktyd ontvang nie. Verlede week het die DBV van Mbombela gesê hulle tree net in wanneer daar wreedheid teenoor diere is en hulle tydens ongelukke beseer is.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button