Almal se hulp nodig om siek en seer perde van Kaapsehoop te red

Vrywilliger Reinette van Niekerk het al meer as 100 siek en beseerde perde van die wilde perde van Kaapsehoop oor 'n 10-jaar periode geskiet. Maar die lading om saam met haar span vrywilligers en veeartse in te spring waar daar nood is raak nou te swaar vir hierdie toegewyde diereliefhebber. Sy reik uit na die gemeenskap vir hulp.

KAAPSEHOOP – Die wilde perde hier is ‘n toenemende probleem en hulle word al hoe meer onderwerp aan siektes en ander peste.
Me. Reinette van Niekerk het sopas nog ‘n merrie vir perdesiekte behandel. Sy is aangedaan en kan skaars praat. Sy verwag dat die merrie gedurende die nag sal vrek. Dit sal die soveelste dood aan perdesiekte in dié delwersdorpie die afgelope paar weke wees.
Selfs op die dag voor die onlangse Paasnaweek toe die gewilde toeristedorpie vol besoekers was, moes sy mnr. Leon Smith, nog ‘n vrywilliger wat hand bysit met die wilde perde, inroep om ‘n perd wat inmekaargesak het te kom skiet en te verwyder – tot groot ontsteltenis van die omstanders.
Dit is beslis nie die eerste of die laaste perd wat Van Niekerk as toegewyde diereliefhebber uit sy lyding gehelp nie. Sy sien sedert 2004 vrywillig om na die loslopende perde in die dorpie aan die grens van die oostelike platorand sowel as die meer wilde perde in die plantasies oorkant die ingangspad na die dorpie.
“Ek het seker al meer as 100 perde oor ‘n 10-jaar periode geskiet. Dis dié dat ek nou hulp inroep om dit te doen,” sê sy hartseer.
In Februarie vanjaar is ‘n hings aan perdesiekte dood. Sy vrees dat Happy, ‘n vulletjie, later vandeesmaand uit haar lyding verlos sal moet word omdat haar behandeling teen bosluise nie werk nie. Sy dink ook met heimwee terug aan die vul wat geskiet moes word al het sy twee maande lank behandeling vir septisemia gekry.
Dit is ‘n swaar fisiese en emosionele las om te dra vir een vrywilliger met ‘n voltydse betrekking. Haar werk as ‘n administratiewe assistent in die bosboubedryf is veeleisend. Sy wy bykans al haar vrye tyd toe aan die perde se welstand. Met die hulp van goedgesinde veeartse soos dr. Donnie Engelbrecht en vrywilligers van Kaapsehoop Horse Trails, sorg sy onder meer vir inentings, ontwurming, die voorkoming van bosluiskoors en oppervlakwonde by die perde.
Van Niekerk speel oop kaarte. “Dis nie elke dag op Kaapsehoop die rustige en romantiese prentjie van wilde perde en die dae van ouds nie. Veral die vrylopende dorpsperde is bloot swak perde uit ‘n slegte bloedlyn.”

Reinette van Niekerk werk al sedert 2006 onverpoosd om die wilde perde van Kaapsehoop se welstand te verbeter.

Komatiland Forests het haar sowat drie jaar gelede gehelp om ‘n sensus van die perdbevolking te doen. Daar is tans sowat 200 waarvan 20 gereeld na die dorpie kom om daar rond te loop. “Dit is nie wilde perde nie, maar dorpsperde wat gepamperlang word.”
Die gevaar vir die makker perde sowel as dié wat dieper in die plantasiegebied woon, is dat hulle die pad tussen Mbombela en Ngodwana moet kruis om by die ingang na Kaapsehoop uit te kom. Sy voel sterk daaroor dat meer tekens op die pad by en naby die toegangspad geplaas moet word om bestuurders en passasiers te vra om nie die perde uit hul motors te voer nie.
“Die perde assosieer die pad met kos en draf dan daarna as hul voertuie hoor aankom. Soveel perde is oor die jare al op die pad doodgery. Elke keer is dit ons wat moet sorg dat so ‘n ongelukstoneel skoongemaak moet word en karkasse na die plantasies gesleep of behandel moet word.
“Tans is 20% van die volle trop merries. Die geringe getal veroorsaak ‘n ernstige wanbalans. Dit lei ook tot hewige gevegte tussen die hingste asook inteling. Sy voel dis een van die natuur se maniere om die getal te verminder.
“Die perde betaal ‘n prys vir hul vryheid. Hulle word stadigaan al hoe sieker.”

Die wilde perde van Kaapsehoop doen op verskeie maniere beserings op soos om in skeure en klofies te val.

Volgens Van Niekerk sal dit nie ‘n oplossing wees as mense merries aan die trop skenk nie. Dit is dikwels perde wat op stal gestaan het. Hulle vrek binne ‘n kort tydjie.”Ek kan hulle ook nie kwalik neem nie, want die publiek sien nie die groter prentjie nie.”
Van Niekerk het bygevoeg dat talle lede van die publiek dikwels die Dierebeskermingsvereniging (DBV) kontak om in te gryp, sonder sukses.
Die DBV neem slegs verantwoordelikheid vir perde wat in ongelukke beseer is en waar wreedheid betrokke is. Dit het geen verpligting om die wilde perde van Kaapsehoop ten opsigte van hul algemene welstand, versorging en onderhoud te help nie. Hierdie verantwoordelikheid lê by die staatsveearts. Só sê mnr. Louie Armorin, voorsitter van die DBV.
“Ons het onlangs weer uitgegaan om te help met perde wat in ‘n botsing beseer is, en sal daarmee help maar die verwydering van karkasse is ook nie ons verantwoordelikheid nie.”
Hy beklemtoon dat die DBV nie ‘n jaarlikse toekenning van die Mbombela Stadsraad ontvang vir dienste gelewer aan die gemeenskap nie, maar dat dit wel jaarliks aan die bestuurder ‘n rekening lewer vir dienste gelewer aan die munisipale skut.
Van Niekerk het wel onlangs hulp van Barbertontak se DBV gekry. Sy sien egter nie tans ‘n langtermynoplossing vir die probleme nie.
“Miskien moet ons maar net die natuur toelaat om sygang te gaan.”
*Lees in ‘n volgende uitgawe van Laevelder oor moontlike oplossings en voorstelle vir die bestuur en welstand van die wilde en dorpsperde van Kaapsehoop. As jy wil bydra tot die versorging van die perde kan jy Van Niekerk by
082-333-2073 skakel. ‘n Inbetaling kan gemaak word aan Kaapsehoop Horses,
Capitec Bank, Rekening-nommer 1179652841, Ngodwana-takkode 1209.

 

Exit mobile version