Menslike voorbehoedmiddels kan teefhonde se dood veroorsaak

Dr. Marietjie Malan van Longtom Dierekliniek het aan die koerant vertel dat dit glad nie 'n nuwe gier is wat posgevat het nie, maar dat sy al vir die afgelope 15 jaar tewe vir baarmoederinfeksie behand

LYDENBURG – ‘n Veearts van die dorp doen ‘n beroep op mense om nie hulle teefhonde met menslike voorbehoedmiddels in te spuit nie.

Dr. Marietjie Malan van Longtom Dierekliniek het aan die koerant vertel dat dit glad nie ‘n nuwe gier is wat posgevat het nie, maar dat sy al vir die afgelope 15 jaar tewe vir baarmoederinfeksie behandel.

“Mense kry die langwerkende voorbehoedmiddels soos Depro-Provera by klinieke en apteke en spuit hulle honde daarmee in. Ons behandel ten minste een hond per maand vir baarmoederinfeksie wat deur die toedien van dié middels veroorsaak word.”

Sy sê die honde word met koors, bleekheid en min of geen eetlus, ingebring. “Ons vra gewoonlik of die hond gesteriliseer is en indien nie, vra ons of die hond met voorbehoedmiddels gespuit is. Agt uit die 10 kere is dit wel die geval.

Wat ons dan doen is om die buik te ondersoek. Indien dit voel asof daar ‘n massa is, doen ons ‘n sonar om dit te bevestig. Waarop dit neerkom, is dat daar ‘n bal vol etter in die baarmoeder is. ‘n Noodsterilisasie moet dan uitgevoer word.”

Sy noem ‘n voorbeeld van ‘n teef wat ingebring is met dié simptome. “Die hond het 12 kilogram geweeg. Na die noodsterilisasie het ons die baarmoeder geweeg.

Die baarmoeder was ‘n verstommende ses kilogram. Die helfte van die hond se gewig was dié van die baarmoeder-etter. Daar vind ook soms verskriklike bloeding plaas.”

Malan verduidelik dat hulle al telkens honde so verloor het. Die etter in die baarmoeder is bakterieë wat vrot weefsel bevat. “Die are in die baarmoeder neem die gifstowwe op en die hond word septisemies. Hulle word dus vergiftig.

Dié honde is baie onstabiel onder narkose en van hulle vrek dan.” Die enigste manier om dit op te los, is sterk binneaarse antibiotika en die verwydering van die hele baarmoeder. “Jy moet egter so versigtig te werk gaan, want die wand is dun en uitgerek en kan bars. As mense net wil besef wat hulle aan hulle honde doen.”

Wat Malan ook bekommer is dat mense teefhondjies al op ses weke met voorbehoedmiddels begin inspuit. “Dit is regtig so goed jy spuit ‘n baba met die middels in.”

Die honde gaan dan vir tot drie jaar nie op hitte nie en omdat die hormone so ongebalanseerd in die liggaam is, gaan die honde dan op ‘n onreëlmatige hitte. Ongeveer drie weke ná dit kom die simptome soos koors en bleekheid voor.

“Sodra die honde op hitte gegaan en die serviks effens oopgegaan het, kom daar bakterieë in. Die hormone in die honde veroorsaak ‘n abnormale slymerige afskeiding. Dit is die perfekte medium vir bakterieë om in te groei en vandaar die baarmoederinfeksies.”

‘n Noodsterilisasie is drie maal die koste van ‘n gewone sterilisasie. “Honde kom slegs elke vyf tot ses maande op hitte en as mense net vir daardie maande kan spaar vir ‘n sterilisasie, sal hulle nooit weer las daarvan hê nie.”

Malan verduidelik deur jou honde te laat steriliser voordat hulle die eerste keer op hitte gaan, verminder dit hul kanse met 50 tot 80 persent om later melkklierkanker te ontwikkel. “Daar is soveel voordele van vroeë sterilisasie.”

Sy meen dat klinieke en apteke gemaan moet word om nie dié middels aan mense te verskaf wat van plan is om dit op hul honde te gebruik nie.

Volgens haar is daar geen veterinêre voorbehoedmiddel wat veilig vir honde is nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version