Ottervonds ‘n teken dat waterstelsel gesond is

Drie otters is in 'n kort tydperk deur werknemers van die Mpumalanga Parkeraad in verskeie streke buite die dorp hervestig.

LYDENBURG – Drie otters is in ‘n kort tydperk deur werknemers van die Mpumalanga Parkeraad in verskeie streke buite die dorp hervestig.

Die jongste was toe Frik Rousseau en Trust Ngwenya verlede Vrydag een van die otters in die Ohrigstaddam hervestig het.

Volgens Gerrie Camacho, roofdierkenner van die parkeraad, is dit die derde otter wat by Marabu Lodge buite die dorp gevind is. “Ek vermoed die rivier wat so laag is, speel ‘n rol in hul verskyning omdat hulle harder moet werk om kos te soek. Ek glo ook die droogte speel ‘n rol.”

Beide otterspesies, die groototter en kleinotter, kom natuurlik in die omgewing voor. “Hulle word in riviere in omliggende damme aangetref. Die groototter is meer ‘n skaaldier-roofdier. Hulle dieet bestaan hoofsaaklik uit krappe, viskoppe en -sterte, paddas, voëls en voëleiers. Die diere sal in die water duik om waterlewende prooi te vang en dan terug na die oewer swem om daar te eet. Groototters het gedeeltelik gewebde en kloulose voete.”

Kleinotters is meer vleisvreters. Die kleinotter is meer waterlewend as die groototter en verlaat slegs die water om te rus of te ontlas.

Volgens Camacho kom die kleinotter meer in dieper poele voor as die groototter. “Hulle eet vis, waterslakke, paddas en voëls.”

Hy meen dat otters belangrik is vir die gesondheid van die waterstelsel. “Otters vang die krappe wat damwalle uithol en veroorsaak dat dit meegee. Hulle beheer ook visgetalle en speel ‘n ekologiese rol. Dit is net nou opvallend dat hulle die afgelope ruk so opgemerk is en uitgekom het.”

Een van die otters is in die Sterkspruitrivier hervestig, terwyl die ander twee na ondermeer Kudu Ranch en die Ohrigstaddam geneem is. “Otters is ‘n aanduiding van ‘n goeie waterstelsel. As hulle daar is, beteken dit daar is kos vir hulle. Otters is die toproofdier in die water. Dit is dus belangrik dat mense ons in kennis stel sodat ons hulle eerder kan hervestig. Daar is metodes om die diere te beheer in damme. Slegs ‘n enkele elektriese draad is voldoende om hulle uit te hou, maar in riviere is dit egter moeiliker.”

Camacho vertel dat die eksterne druk van mense op die diere groot is. Otters sal nie mense aanval nie, maar kan honde doodbyt. “Tensy ‘n mens hom in ‘n hoek vasdruk, sal hulle nie mense aanval nie. Die dier kan wel goed baklei en is baie soos ‘n ratel.”

Hy sê dat otters eintlik uitstekende troeteldiere maak en dat hulle hoogs intelligent is.

Exit mobile version