AnimalsAnimalsEnvironmentalLocal newsNewsNews

Slangvander word baie besig gehou

Plaaslike herpatoloog, Neels Bothma, het in die afgelope twee maande nie minder as 20 slange om die dorp hervestig.

LYDENBURG – Plaaslike herpatoloog, Neels Bothma, het in die afgelope twee maande nie minder as 20 slange om die dorp hervestig.

Bothma verduidelik dat slange nie van hoë temperature hou nie. “Slange is aktief in temperature tussen 25- en 35 grade Celcius.

Ons word veral baie vir nagadders uitgeroep. Ongeveer 70 persent van my oproepe om slange te verwyder, is vir hulle. Die omgewing is ideaal vir hulle. Dis vogtig en die hoogte bo seëspieël is reg.”

Van die ander slangspesies wat Bothma verwyder en hervestig het, sluit ‘n pofadder, ‘n onvolwasse boomslang, rooilippie, Kaapse wolfslang, swart mamba, ‘n slakvreter met haar kleintjie, ‘n rinkhals, spoegkobra, pas uitgebroeide luislange en ‘n onvolwasse boomslang, in.

“Wat interessant van die boomslang is, is dat ‘n onvolwasse slang ‘n helder groen oog het. Namate die slang ouer word verander die oog na swart. Afhangende van die geslag, sal ‘n mannetjie helder groen word of ‘n wyfie bruin. Dit is die enigste slang by wie jy geslag kan bepaal deur middel van kleur.”

Nog meer interessant is dat rinkhalse net suid van die dorp gevind word en spoegkobras noord. Die Dorpsrivier is as’t ware die grenslyn vir die twee spesies. Botma is ook uitgeroep om ‘n spoegkobra uit ‘n graf in die nuwe begraafplaas te verwyder.

Party slange gee lewendig geboorte en ander lê eiers. “Slakslange gee lewendig geboorte. ‘n Slang het egter nie ‘n “nes” nie. Sodra die wyfie die eiers gelê het, gee sy pad. Die slange broei ook nie gelyktydig uit nie. Dit skakel inteling en konflik oor kos uit. ‘n Pasgebore slang moet ook eers vervel voor hy sy eerste maaltyd kan eet. As die omstandighede nie reg is nie, sal die wyfie wat lewendig geboorte gee, ook die geboorte van die kleintjies stop tot die omgewing meer gunstig is.”

Slange in die Hoëveld, waar dit kouer is, gee meestal lewendig geboorte. Slange in die Laeveld waar dit warmer is, lê meer eiers.

Bothma vertel ook dat elke slang ‘n unieke patroon het. “Net soos mense unieke vingerafdrukke het, het elke slang ‘n eie patroon. Slange sal in Lydenburg en gebied nog aktief wees tot die temperatuur daal tot onder 18 grade celcius.”

Al die slange op die foto’s is deur Bothma hervestig.

Back to top button