Diere is ‘n groot verantwoordelikheid

Wanneer 'n mens die dag jou hart en huis vir 'n troeteldier oopmaak, behoort die besef in te sink dat dit 'n lewenslange verbintenis is.

“Ek wens ek kan mense sover kry om op te hou teel met hulle diere, of ten minste die werklikheid te laat insink van waar talle van die diere beland wat gereeld op Facebook geadverteer word onder die hofie, ‘Free to a good home’.”
So praat Marcelle Hoffman, voorsitter van Barberton se DBV.

Wanneer ‘n mens die dag jou hart en huis vir ‘n troeteldier oopmaak, behoort die besef in te sink dat dit ‘n lewenslange verbintenis is. Diere is nie korttermyn nie. Soos mense gaan hulle deur goeie en slegte tye.
Hulle word siek en baie het gedrags-afwykings wat moontlik eers later manifisteer.

Al word ‘n diere-eienaar só vies vir nog ‘n stukkende skoen of meubelstuk waarmee hy ná ‘n lang dag verwelkom word, is dit geen verskoning om ‘n dier te mishandel nie en volgens die DBV is dit presies wat jy doen wanneer jy nie jou dier laat steriliseer nie.

“Soos baie ander gemeenskappe sit Barberton met ‘n enorme probleem sover dit agterplaastelers betref – en nou praat ek nie van dié wat geld maak uit hulle diere se werpsels nie, ek praat van elke ene wat toelaat dat hulle troeteldiere kleintjies kry. Duisende diere beland op straat, want die diertjie wat jy so goedsmoeds gratis aan ‘n goeie huis weggee, is alte dikwels die arme een wat op straat beland – honger, dragtig en uitgeteer.

Hierdie is ook die diere waarop ons afkom wat gebruik word om mee te jag, aan hondegevegte deel te neem en wat onversorg en vol peste en plae is.
Dikwels is hierdie arme gratis diere se voorland ook verkragting, soos wat pas in ‘n bestialiteitsaak in Middelburg gebeur het waar ‘n 20-jarige man ‘n dier deur verkragting gedood het,” sê Marcelle.

Verder vertel sy van die wreedheid van mense wat trek en op die nippertjie besef hulle het nagelaat om uit te vind of die nuwe huis dierevriendelik is. Hierdie diere word doodeenvoudig agtergelaat, dikwels agter mure en toe hekke, waar hulle letterlik van die honger en dors omkom. Die gelukkiges word by die DBV afgelaai.

Baie van die agterplaastelers maak hulle ook skuldig aan die wreedste dade ooit, soos om veral katjies in bokse te los.
“Hierdie bokse is nege uit 10 keer toe en dit word in die veld of sommer langs die pad gelaat. Kan jy dink watter hel daardie klein diertjies deurgaan? Hulle is vasgekeer sonder enige uitkoms en was dit nie vir mense wat ondersoek instel-, soos Laura Jane Harrod wat al dikwels op so ‘n boks vol katjies afgekom het nie-, is die gedagte aan die dood wat hulle sou sterf net een te veel!”

Barberton Times voeg vandag ons stem by dié van die DBV en vra dat elkeen wat hom hieraan skuldig maak, ophou verskonings maak en selfondersoek gaan instel. Ons vra ook dat die sosiale forums soos Facebook hulle ondersteuning in hierdie verband sal gee en die advertensie van diere sal verbied, tensy dit ‘n gelisensieerde teler is.
“Indien jy nie die geld het om ‘n dier te laat steriliseer nie, moenie ‘n dier aanhou
nie – dis so maklik soos dit.

“Of spaar ten minste vooraf tot jy genoeg het om dit te laat doen, voor jy die stap neem om die eienaar van ‘n troeteldier te word. Statistiek is volop oor hoe ‘n ongesteriliseerde dier binne die bestek van ‘n paar jaar kan aanteel tot duisende.
“Met katte is dit baie meer as met honde – almal kan Google – gebruik die verstand tot jou beskikking en doen dit!” sê Marcelle.

Die DBV in Barberton is tans op soek na skenkings van ou baddens vir die dip van diere.
“Ons moet dringend ‘n dip-bad in elke uitbreiding in Emjindini oprig en sal dit baie waardeer indien die gemeenskap hulp in die verband kan verleen.”
Indien jy bewus is van dieremishandeling of indien jy bloot met die DBV in verbinding wil tree, kontak hulle by
082-852-3093.

Exit mobile version