Handel in renosterhoring: staat se aansoek om appèl geweier

Hy is hoopvol dat dit 'n stap in die regte rigting is om renosterstropery uiteindelik te bekamp en glo dit baan die weg om die internasionale verbod óók te lig. Cites hou later hierdie jaar 'n konferensie daaroor in Johannesburg

MBOMBELA – Die staat se aansoek om te appeleer teen ‘n beslissing van die Hooggeregshof verlede jaar waarvolgens die nasionale moratorium op die handel in renosterhoring gelig is, is Woensdag van die hand gewys.

Dit is opnuut ‘n oorwinning vir die regspan van plaaslike renosterboer, mnr. John Hume, wat die aansoek gebring het. Uitspraak is in November gegee.

Lees ook: National ban on rhino horn trade set aside

Hume is ‘n uitgesproke aktivis vir die handel in renosterhoring en glo dat dit die weg sal baan om renosterstropery stop te sit. Hy is die grootste witrenosterteler in die wêreld, met meer as 1 000 renosters en sowat 4 000 kilogram renosterhoring in sy besit.

Sy regspan se aansoek om die nasionale verbod te lig het onder meer berus op die feit dat die minister van omgewingsake nie genoegsame kennis gegee het van die voorgenome moratorium wat in Februarie 2009 ingestel is nie. Daar is ook aangevoer dat die moratorium sinneloos was omdat dit nie renosterstropery hokgeslaan het nie.

Regter mnr. Francis Legodi het in hulle guns beslis. Die departement het aangedui dat dit teen die uitspraak sou appeleer en verskeie teenstropingsorganisasies het ook heftig op die uitspraak gereageer. Die aansoek is egter deur ‘n volbank van drie regters oorweeg en met koste van die hand gewys.

Mnr. Izak du Toit van Seymore, du Toit & Basson Prokureurs, het destyds verduidelik dat Legodi se uitspraak behels dat daar nou met renosterhoring binne Suid-Afrikaanse grense handel gedryf mag word, mits die nodige permitte in plek is.

Hy is hoopvol dat dit ‘n stap in die regte rigting is om renosterstropery uiteindelik te bekamp en glo dit baan die weg om die internasionale verbod óók te lig. Cites hou later hierdie jaar ‘n konferensie daaroor in Johannesburg.

Du Toit het gister gesê dat hulle nog wag op die redes vir Woensdag se uitspraak. Minister me. Edna Molewa sou gistermiddag verlede jaar se getal renosters wat weer aan die hand van stropers gesneuwel het, bekendmaak.

Exit mobile version