Ortotis gee optelbrak ‘n tweede kans

Die hondjies was erg verswak en die tefie het, ná twee dae by 'n veearts op 'n drup, dit nie oorleef nie. Moegoe is egter saam huis toe en het op baie aandag en liefde floreer

MBOMBELA – Mens dink aanvanklik dis Mercurochrome op Moegoe se wang as jy dié langbeenbrakkie in Felicity L’ange se arms sien, maar jy kom vinnig agter dis lipstiffiemerke van waar sy hom heeltyd soen.

Moegoe is die nuutste toevoeging tot Felicity se kroos van 10 hondekinders en was Donderdag saam met haar by plaaslike ortotis – Org Rautenbach – vir die eerste passing van sy kunsbeentjie.

Felicity is nou betrokke by Pro-Life Pet Rescue en het in November van Moegoe en ‘n tefie – vermoedelik uit dieselfde werpsel – te hore gekom. Hulle is in die Noordkaap-omgewing onderweg na Barberton ontdek en na Pro-Life gebring. Moegoe se linkervoorbeentjie was afgekap en die tefie se een agterbeentjie was ook morsaf.

Lees ook: Drawwers kikker honde se dag op

“Ons vermoed dit was vir muti,” het Felicity vertel. Die hondjies was erg verswak en die tefie het, ná twee dae by ‘n veearts op ‘n drup, dit nie oorleef nie. Moegoe is egter saam huis toe en het op baie aandag en liefde floreer.

Die wond aan sy been het mooi herstel en hy kom gemaklik oor die weg. Hy gly egter en val soms as hy homself moet balanseer by die kosbakke. Felicity het Org genader om te hoor of hy kon help en hy het nie twee keer gedink voor hy ingestem het nie. Hoewel dit die eerste keer is wat hy met ‘n hond werk, het hy al baie vantevore stutte vir perde gemaak.

Hy het ‘n gipsafdruk van Moegoe se beentjie gemaak en hy en Felicity is Donderdag terug na Org vir die eerste pas. Org het ‘n oortreksel van sagte materiaal gemaak wat eers oor die stompie getrek word om dit teen die harder kunsbeen te beskerm. Die kunsbeentjie het ook gemaklik oor die stompie geglip. Hoewel dit mooi pas, is dit effe te kort. Org het noukeurige afmetings gemaak en gaan dit nou aanpas. Hy gaan selfs later ‘n pootjie by die kunsbeen voeg.

Moegoe was ontspanne tydens die konsultasie met Org, maar was huiwerig om met die kunsbeentjie te loop. Felicity is egter vol vertroue dat hy dit vinnig gewoond sal raak.

Exit mobile version