AnimalsEnvironmentalLocal newsNewsNews

Aktivis het groot planne vir stad se troeteldiere

Lost and Found Pets help nie net om verlore troeteldiere met hul eienaars se herenig nie.

Me. Liezel Bernardo is nie net ‘n diereliefhebber nie, maar ook ‘n aktivis.

Sy het sowat ‘n jaar gelede die gewilde Lost and Found Pets Lowveld-groep op Facebook begin, nadat sy besef het dat daar is nie so ‘n groep vir die area beskikbaar nie.

Teen druktyd het die groep al 2 375 lede gehad. Lede kan foto’s van hul eie verlore diere en van dié wat hulle vind op die blad laai. Só kan diere en eienaars hopelik herenig word.

Bernardo sê dis wenslik om goeie beskrywings van die diere asook die omstandighede waaronder hulle verdwyn of gevind is, te gee, behalwe in gevalle waar gesogte hondesoorte gevind word aangesien mense soms kanse vat.

As administrateur deel Bernardo die plasings wyd en syd en dui ook aan wanneer ‘n troeteldier veilig terug is by die huis.

Me. Liezel Bernardo.
Me. Liezel Bernardo.

Sy is tans die administrateur van 14 groepe op Facebook, terwyl sy ook as ‘n binnehuise-versierder werk en saam met haar man ‘n konstruksie-maatskappy bedryf.

Die egpaar het self vier honde, waarvan drie aangeneem is. Die vierde een het hulle by ‘n kroegman gekoop wat nie na die dier omgesien het nie.

Sy sê dis net te maklik vir onver-antwoordelike mense om honde aan te neem, nie na hulle om te sien nie en met hulle te teel.

Van Lost and Found Pets Lowveld se lede verduidelik sy: “Ons het mense wat help sorg dat diere veilig by die huis kom, en diereaktiviste.”

Sy beplan om vanjaar saam met laasgenoemde en Ban Animal Trading, ‘n niewinsgewende organisasie, ‘n groter rol te speel en hulle vir optrede teen troeteldier-winkels en eienaars van diere te beywer.

Intussen werk hulle hard saam met Pro-Life Pet Rescue, die DBV, Natureza’s Catz Rescue Sabie, Home 4 Paws in Lydenburg en Mpumalanga Animal Crime Watch.

“Ons gaan hand aan hand,” sê sy. “Ek is baie geseënd met almal wat op al die groepe ‘n netwerk vir die Laeveld se diere skep.”

Back to top button