AnimalsEnvironmentalHard newsNewsNewsUpdate

Bekgeveg op sosiale media oor leeu woed steeds

Hou op om vanuit julle leunstoele kritiek te lewer. Die veldwagters het baie ander take wat hulle aandag vereis, onder andere om stropers vas te trek. Ondersteun hulle eerder

SKUKUZA – Die stof rondom die leeu wat in ‘n strik in die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) gevang was, wil nou maar net nie gaan lê nie. Eers het Facebook-gebruikers gekla SANParke se personeel kom nie vinnig genoeg tot die arme dier se redding nie, nou meen ander dat daar meer dringende sake is waaraan hulle eerder aandag moet gee.

‘n Foto van die leeumannetjie met ‘n strik wat styf om sy nek span is Sondag en Maandag op verskeie wildtuin-groepe op Facebook versprei. Die dier is op die H4-2, sowat 2,5 kilometer vanaf Onder Sabie opgemerk en die betrokke wildtuinganger het dit by die kamp aangemeld.

Lees ook: Tempers flare over snared lion in KNP

Almal het met skok en afgryse gereageer en baie van hulle wou weet wat veldwagters doen om die leeu te help. Talle het gemor dat hulle sloer en nie bevoeg is om hulle werk te doen nie. Ander het hulle tot kalmte gemaan en uitgewys dat dit lank vat om só ‘n dier op te spoor.

“Hou op om vanuit julle leunstoele kritiek te lewer. Die veldwagters het baie ander take wat hulle aandag vereis, onder andere om stropers vas te trek. Ondersteun hulle eerder,” het ene Ebrahim Gangat opgemerk.

Mnr. Joep Stevens van SANParke het ‘n inskrywing gemaak en aangedui dat veldwagters onverpoos na die dier soek en wildtuingangers gevra om hulle in kennis te stel as hulle die leeu gewaar.

Gelukkig was die soektog van redelike korte duur. Die leeu is Dinsdag opgespoor, verdoof en die wond behandel. Me. Lesley Nyawo van SANParke het ‘n inskrywing gemaak wat lees: “Die leeu is weer vrygelaat in die area waar dit verdoof is. Die wonde is nie so erg soos ons vermoed het nie.” Dit is met honderde boodskappe van gelukwensing en blydskap deur wildtuinliefhebbers begroet.

Lees ook: Update: Video footage of mutilated KNP rhino emerges

Mnr. Jan Harm Vorster het toe egter opgemerk dat, hoewel hy saamstem daarmee dat die dier behandel moes word, wonder hy tog of die mense se reaksie hierop nie dui op ‘n “oorreaksie” nie.

“Ek dink aan die langtermyn-effekte hiervan. Gaan dit nie bykomende druk op die wildtuin se bestuur sit nie? Daar is seker groter kwessies wat aandag verg? Soos tering onder leeus en buffels. Moet ons nie eerder ons energie hieraan spandeer nie?” Hy het ook verwys na ‘n Facebook-gebruiker wat wou weet wat hulle die leeu gaan noem – ‘n inskrywing wat ook hewige reaksie ontlok het.

Me. Diane Andersoon meen dat die leeu se beserings deur mense veroorsaak was en dat ons dus moés ingryp. “As dit ‘n weens die natuur was, moes ons dit gelos het.” Mnr. Ian McDonald voel egter dat veldwagters sal voortgaan met die werk wat hulle jare lank reeds doen, met of sonder die hulp van sosiale media.

Gavin Briggs stem saam. “Daar is baie diere wat ongesiens met dieselfde dringendheid en omsigtigheid deur SANParke behandel word. Dit is wonderlik dat ons hiervan bewus word, maar dit is vir die veldwagters net nog ‘n dag by die werk. Dit is tog wonderlik dat daar platforms en forums is waar wildtuingangers deels veldwagters se pligte kan oorneem deur sulke voorvalle aan te meld. Dit help om die park te bestuur.”

Mnr. William Mabasa, woordvoerder van die wildtuin, het nie op navrae gereageer nie.

Back to top button