‘n Harde neut om te kraak

'n Basset is bekend daarvoor om vreemde goed beet te kry - hetsy 'n kous of in dié geval, 'n makadamianeut.

MBOMBELA – Sally, ‘n basset van sowat ‘n jaar oud, se eienaars het haar verlede week na West Acres Dierehospitaal geneem nadat sy skielik gewig begin verloor het. “Sy was gedehidreer en wou glad nie eet nie. Toe ek haar ondersoek, kon ek ‘n balvormige voorwerp in haar derm voel,” het dr. Nicola Colborne vertel.

Sally, ‘n aanneemhond van Pro Life Pet Rescue, is op ‘n drup gesit in die hoop dat die voorwerp vanself sal uitspoel, maar na twee dae kon die dokters nie anders nie as om haar te opereer. Sy is die Woensdag teater toe. “Ons het ‘n diagonale sny op haar magie gemaak. Ons het eers die blindederm ondersoek om te sien of dit nog gesond is. ‘n Deel daarvan is uitgehaal en toe sien ons eers dit is ‘n makadamianeut.”

Sally is op antibiotika geplaas en is eers twee dae na haar operasie ontslaan om seker te maak dat sy gesond eet.

“Ek het Dinsdag met haar eienaars gepraat, en hulle vertel dat Sally darem nou weer normaal eet. Ons het ‘n paar weke gelede ‘n soortgelyke voorval gehad waar ‘n hond ‘n sokkie geëet het wat ons ook moes verwyder.”

Sally se eienaars moes R6 000 vir die operasie opdok. Hulle het ‘n boodskap op Facebook geplaas waar hulle die gemeenskap vir bydraes gevra het. Binne ‘n paar dae het hulle genoeg geld ingesamel om hulle basset weer op die been te kry.

Exit mobile version