AgricultureAnimalsAnimalsEnvironmentalHard newsNewsNews

Plaaslike vrou doen belangrike navorsing oor blouwildebeeste

Om te kon toets of die middels ook vir blouwildebeeste kon help, moes Laubscher eers data insamel oor dié diere se spanningsvlakke wanneer hulle vrylopend is of in 'n boma aangehou word

KOMATIPOORT – Wildkenners weet nou danksy navorsing deur ‘n oudleerling van Uplands College, presies hoé gespanne blouwildebeeste in aanhouding kan raak.

Me. Liesel Laubscher (32) ontvang Donderdag haar doktorsgraad in veekundige wetenskappe van die Universiteit van Stellenbosch. Laubscher het infrarooi-video- en data-opnemers, soortgelyk aan dié wat atlete om hul lywe dra, ingespan om die spanningsvlak van bloudewildebeeste in bomas te bepaal.

Haar studieleiers was prof. Louw Hoffmann, wat die Suid-Afrikaanse leerstoel in vleiswetenskap: genomika tot nutriomika aan die universiteit beklee, dr. Neville Pitts van die Universiteit van die Witwatersrand en ook die plaaslike dr. Cobus Raath van Wildlife Pharmaceuticals SA.

Laubscher se navorsing vorm deel van inisiatiewe deur die US Departement Veekundige Wetenskappe om wetenskaplike kennis oor die plaaslike wildbedryf uit te brei. Van haar bevindinge het reeds in vaktydskrifte soos Zoo Biology, African Journal of Wildlife Research en die Journal of Zoo and Wildlife Medicine verskyn.

Tot 300 000 stukke wild per jaar word suksesvol in Suid-Afrika verskuif. As dinge egter verkeerd loop, lei dit maklik tot beserings of selfs die dood van ‘n dier.

Tegnologie ingespan
Laubscher het onder meer die effek van twee soorte langwerkende neuroleptika-middels vergelyk wat gebruik kan word om wilde diere wat oor ver afstande heen verskuif en vervoer moet word, rustig te hou. Dié kalmeermiddels het nie ‘n effek op diere se reflekse of vermoë om te beweeg nie. Een van die middels word al lank in die wildverskuiwingsbedryf gebruik, terwyl die ander nog in die toetsfase is.

Om te kon toets of die middels ook vir blouwildebeeste kon help, moes Laubscher eers data insamel oor dié diere se spanningsvlakke wanneer hulle vrylopend is of in ‘n boma aangehou word. Dit was makliker gesê as gedaan, want data oor hul asemhalingsvlakke, hartklop en bewegings wat tipiese aanduidings van spanning is, was tydens die aanvang van haar PhD-studies nog nie aan navorsers bekend nie.

Sy het haar egter nie daardeur laat onderkry nie en het besluit om van biometriese lyfbande gebruik te maak. Sy moes verskillende modelle toets en aanpas om die regte een te kry. “Dit was belangrik om een te kry wat gemaklik sit, akkurate metings verseker en met Bluetooth die data na ‘n selfoon of rekenaar kon stuur,” het sy verduidelik.

Twee infrarooi-kringtelevisiekameras het ook die diere se gedrag voor en na toediening van die kalmeermiddels binne die boma afgeneem. Laubscher kon toe vir die eerste keer vasstel wat hierdie diere tydens aanhouding doen. Sy het ook vasgestel hoe hul hartklop en asemhaling verskil wanneer hulle byvoorbeeld vreet, plat lê of hul koppe uit frustrasie skud.

Diere word kalm
Haar toetse op die kalmeermiddels het goeie resultate gelewer. Sy het bevind dat diere wat enige van die twee middels toegedien word, beslis minder gejaagd asemhaal en nie sommer van mense probeer wegkom wat in ‘n boma instap nie.

Die middels beïnvloed geensins die diere se hartklop nie en albei maak die diere minder waaksaam en meer rustig. Diere wat met die betrokke middel behandel is, was minder ondersoekend en onrustig en het meer tyd daaraan spandeer om te vreet.

Meer oor Laubscher
Sy werk vir Wildlife Pharmaceuticals SA in Komatipoort. Die maatskappy het haar studies deels befonds en sy het ook beurse van die Nasionale Navorsingstigting, die Harry Crossley Stigting en die Suid-Afrikaanse Veeartsenykundige Vereniging ontvang.

Sy het na haar skoolloopbaan BSc veekunde met bewaringsekologie aan die Universiteit van Stellenbosch studeer. In 2008 het sy die toekenning as die beste meestersgraadstudent by die universiteit se Fakulteit AgriWetenskappe ontvang.

Back to top button