AnimalsLocal newsMunicipalNewsNews

Kundiges verskil oor bewaring in Marloth

Dit is n totaal onnatuurlike sisteem, dus kan mens nie verwag dat die natuur sy gang moet gaan nie

Hierdie pragtige foto wat in Marlothpark geneem is, is Sondag op Facebook geplaas. Dit dui ook op die groter probleem van oorbeweiding wat met die droogte gepaard gaan.

Die herplasing van die foto op die Laevelders se Facebook-blad het tot baie insiggewende korrespondensie tussen kundiges en aandeelhouers in Marlothpark gelei.

Willem Botha, ‘n bewaringsdeskundige sê die veld is arm as gevolg van wanbestuur. Sy voorstel is om die sekelbos en ander bome bietjie uit te dun sodat die son op die grond kan skyn en die gras kan groei.

Hierop antwoord Gerhard Human dat die sekelbos se doel is om oorbeweide areas te beskerm. Daar is geen gras wat eers amper lyk of dit groen is nie, sê Human. Botha het daarop geantwoord dat sekelbos ook groei waar die grond versteur is soos langs paaie en waar slote vir pypleidings en kragkabels gegrawe is.

“Daar is nie olifante in Marloth om ontbossing te bevorder nie. Omdat daar nou ‘n droogte is, is dit net erger. Gaan kyk bietjie hoeveel blinkblaar-wag-‘n-bietjies is daar. Hulle word ook inheemse indringers as hulle nie beheer word nie. Help nie jy probeer diere se getalle beheer, maar nie die plantegroei nie. Ek verneem Ralph Kalwa is nou in beheer so ek glo positiewe resultate sal nou bereik word.”

Lorinda Steenkamp sê die Marloth-eienaars is hard besig met die rehabilitasie van die veld.

“Eerstens was dit die eienaars wat vir Ralf Kalwa se dienste betaal het. Die eienaars is besig om die sekelbos uit te dun. Die afgesnyde takke word op die grond gelos om beskerming te bied vir die nuwe gras wat opkom. Verskeie metodes van grassaadaanplanting word ook getoets en toegepas. Dit word egter alles uit die sakke van die eienaars befonds, die munisipaliteit dra niks by nie.

“Die diere word ook met voer deur die eienaars aan die lewe gehou. Marloth is ‘n totaal onnatuurlike sisteem, dus kan mens nie verwag dat die natuur sy gang moet gaan nie. Die munisipaliteit ontvang graag die opbrengste van diere wat verkoop word of die fondse van die vleis wat verkoop word, maar niks van die geld kom terug na die fauna en flora nie. Die munisipaliteit is gou om uit te wys dat hulle die eienaars van die diere is wanneer hulle kan geld maak, maar wanneer die diere sorg nodig het, is hulle doodstil.

“Die Nasionale Dierebeskermings-vereniging het die munisipaliteit ‘n offisiële waarskuwing gegee dat hulle die diere moet voer tot daar weer natuurlike weiding beskikbaar is. Die munisipaliteit het glad nie reageer nie en oortree tans die Dierebeskermingswet en die waarskuwing.”

Botha stel voor dat die inwoners van Marlothpark soos ander dorpe moet maak. “Betaal vir julle krag maar betaal die geld vir dienste in ‘n trustrekening by ‘n prokureur in en betaal die dienste wat julle verrig daaruit. Dalk skrik hulle dan wakker.”

Navraag is by die Nkomazi Munisipaliteit aangaande die bewerings rondom die Dierebeskermingsvereniging gedoen.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Check Also
Close
Back to top button