AnimalsAnimalsCrimeEnvironmentalHard newsNewsNewsWar against poaching

Renosters: vrektes meer as geboortes

Tog is SANParke se bestuur van mening dat sy pogings om dié slagting hok te slaan, vrugte afwerp. Dit volstaan egter by die feit dat stropers buite die NKW óók geteiken moet word ten einde die oorlog suksesvol te voer

MBOMBELA – Renosterstropery is besig om SANParke duur te staan te kom.

In die sewe parke onder die organisasie se bestuur het renosterstropery die afgelope boekjaar met ‘n verbysterende 42 persent toegeneem. Selfs meer kommerwekkend, is die feit dat die sterftesyfer van dié diere in die Nasionale Krugerwildtuin (NKW), nou al die aanwassyfer verbysteek.

Boonop was SANParke se operasionele kostes R87,871 miljoen meer as die aanvanklike begroting. Dit word toegeskryf aan meer werknemers en verhoogte kostes weens renosterstropery.

Lees ook: Public engages in talks about rhino poaching

Dié syfers word in SANParke se jaarverslag vir 2014/15 vervat. Hiervolgens is 878 renosters vanaf April 2014 tot einde Maart vanjaar gestroop. In 2013/14 is 617 vir hul horings afgemaai en dit dui op die verhoging van 42 persent.

Tog is SANParke se bestuur van mening dat sy pogings om dié slagting hok te slaan, vrugte afwerp. Dit volstaan egter by die feit dat stropers buite die NKW óók geteiken moet word ten einde die oorlog suksesvol te voer.

Laevelder het vrae oor dié syfers en pogings om renosterstropers te stuit, aan SANParke se woordvoerders, uitvoerende hoofde en diegene aan die stuur van teenstropingsoperasies, gestuur.

Renosterstropery word meerendeels slegs binne die wildtuin beveg
“Die aantal stropers en pogings het geweldig toegeneem. Tog is 500 verdagtes al die afgelope drie jaar aangekeer en dit dui op noemenswaardige sukses. As jy die aantal stropers waarmee ons weekliks in kontak kom en die aantal stropingsaktiwiteite wat aangemeld word, vergelyk met die aantal arrestasies asook vuurwapens en ammunisie waarop beslag gelê word, is ons tevrede met ons pogings,” het hulle geantwoord. Ons moét egter die park van buite af ‘skoonmaak’.”

Lees ook: Vermeende stropers op pad na wildtuin gefnuik

Ander redes wat vir die toename in renosterstropery aangevoer is, is die volgende:
• Sindikate word nie voldoende ontwrig nie. Slegs stropers word gearresteer en SANParke meen aksie van die polisie en intelligensie-dienste is nodig
• Stropers vind die geld wat hulle betaal word baie aanloklik en is heeltemal bereid om hul lewens te waag
• Renosterhorings bly uiters gesog en daar is ‘n groot aanvraag in verbruikerslande
• Die wildtuin is gróót (20 000 vierkante kilometer) en dit is moeilik om die hele terrein op enige gegewe tyd, te patrolleer
• Daar bestaan ‘n mate van samewerking met Mosambiek (waarvandaan die meeste stropers afkomstig is), maar ‘n groter verbintenis van dié buurland word verlang.

Lees ook: Man moet 14 jaar sit na hy swartrenosters stroop

“SANParke doen alles wat hy kan onder die huidige omstandighede, maar almal moet aan boord kom om hierdie stryd te wen. Ons het gemeenskappe wat die wildtuin grens, buurlande en die res van die wêreld se samewerking nodig,” het hulle benadruk.

Beter samewerking met Mosambiek is nodig
Die meerderheid stropers is van Mosambiek afkomstig. Sodra hulle egter die grensdraad oorsteek terug na hierdie land, is veldwagters, polisielede en ander rolspelers in die wildtuin se hande afgekap.

Me. Terri Stander van die DA het verlede maand die minister van polisie, mnr. Nathi Mthethwa, in die parlement hieroor gepols. Sy het hom gevra of daar ‘n ooreenkoms met Mosambiek in plek is waarvolgens ons wetstoepassers stropers in dié buurland kan aankeer.

Hy het geantwoord dat daar geen so ‘n ooreenkoms in plek is nie. Daar is in 1997 ‘n ooreenkoms tussen verskeie Afrika-lande in die suide aangegaan waarvolgens ‘n polisielid eers oor die grens van ‘n buurland mag gaan as daar toestemming van daardie land se regering verkry is.

Hierdie ooreenkoms bepaal uitdruklik dat geen polisielid die reg het om op sy eie in ‘n buurland op te tree nie. Hy/sy moet te alle tye deur ‘n polisielid van dié land vergesel word. Dit bepaal verder dat enige aksie slegs deur hierdie polisielid geneem sal word en dat hierdie aksies nie daardie land se wette mag oorskry nie.

“As verdagtes hier in Suid-Afrika agternagesit word en die grens oorsteek, moet die Mosambiekse polisie se hulp eers gevra word. As ons hulle vra om verdagtes te arresteer en op bewysstukke beslag te lê en dit druis nie in teen hulle eie wette nie, mag hulle dit doen. Daar sal egter met daardie verdagtes omgegaan word volgens Mosambiek se regstelsel.”

Daar bestaan nie ‘n uitruilingsooreenkoms met Mosambiek waarvolgens verdagtes aan ons uitgelewer en hier verhoor word nie.

Back to top button