AnimalsCrimeEnvironmentalHard newsLocal newsNewsNews

Wildstrikke word ‘n groot kommer

SKUKUZA – Meer en meer gevalle van wild wat in strikke gevang word, word deesdae amper op ‘n weeklikse basis in die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) en omliggende gebiede aangemeld. Juis as gevolg van hierdie skokkende realiteit, het drie veldwagters en 25 vrywilligers, wat deel is van die Elephant Point Facebook-groep, Saterdagoggend elke bos, boom en voetpad in …

SKUKUZA – Meer en meer gevalle van wild wat in strikke gevang word, word deesdae amper op ‘n weeklikse basis in die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) en omliggende gebiede aangemeld. Juis as gevolg van hierdie skokkende realiteit, het drie veldwagters en 25 vrywilligers, wat deel is van die Elephant Point Facebook-groep, Saterdagoggend elke bos, boom en voetpad in die Sabierivier-area gefynkam, op soek na dié dodelike lokvalle. Hulle kon daarin slaag om ongeveer 200 te verwyder. Sou hulle toestemming kry, gaan hulle in die toekoms hulle vlerke sprei na die res van die wildtuin, wat die suidelike dele wat grens aan die Onderberg, insluit. Me. Marlene Hurter, woordvoerder vir Elephant Point, ‘n reservaat wat aan die weste van die wildtuin grens, sê: “Ons gebruik die stop-en-soekmetode, wat al telkemale effektief was.” Elephant Point het self reeds talle kere diere in strikke teëgekom, en is besorg oor die stygende syfer gevalle wat op sosiale media aangemeld word. “‘n Wildehond het onlangs in ‘n strik beland. Ons het hom ‘n paar dae vantevore gesien en daar was niks verkeerd nie,” sê Hurter. “Dit is een van dié mees onmenslike maniere vir ‘n dier om te vrek. Sy bly reg langs die NKW met gemeenskappe aan die westelike en oostelike grense. “As jy die gevolge van strikke eerstehands beleef het, sal jy ons vasberadenheid en passie verstaan om soveel moontlik daarvan te verwyder. “Elke strik wat verwyder word, is ‘n dier wat van ‘n hartverskeurende dood gered word.” Hurter is vas oortuig dat dit inwoners naby die NKW is wat die strikke stel. “Dit is ‘n geruislose jagmetode en is feitlik onsigbaar deurdat die meeste in die aand gestel word.” Sy voeg by dat die inwoners rondom die wildtuin soms bitter swaarkry en dié metode, of jag met honde gebruik om kos op die tafel te sit. “Die oortreders weet dat die kanse baie skraal is om gevang te word, en daarom word dit gesien as ‘n baie lae-risikomanier van voorsiening,” sê Hurter. Sy het reeds talle gemeenskappe genader om hulle te probeer opvoed, maar hulle voel dat die diere daar is vir almal se gebruik. Dit word dus nie as ‘n vorm van stroping beskou nie. Hulle het in die verlede reeds ‘n olifant met ‘n dik kabel om sy lyf gesien, met snye só diep, dat sy ingewande sigbaar was. Hulle het ook al by talle geleenthede koedoes, asook buffels met strikke om hulle nekke en hoewe gewaar wat só moes loop totdat hulle uiteindelik gered word, of weens infeksie vrek. “Die eerste gevoel wat jy kry, is woede, en dit word vervang deur die behoefte om te help.” Hurter maan alle inwoners naby die wildtuin asook besoekers om die gevalle so gou moontlik aan te meld. “Ons glo nie dat SANParke die mannekrag het om hierdie probleem alleen te beveg nie en daarom versoek ons reservate rondom die wildtuin om te help waar hulle kan. Elke strik wat verwyder word, is ‘n oorwinning in ‘n goeie stryd,” sê Hurter.

Back to top button