Facebook kom tot hond se redding

Die geld vir Bella se operasie was binne vier dae ingesamel, danksy vrygewige diereliefhebbers.

BARBERTON – Honderd rand hier en R300 daar van barmhartige Samaritane op sosiale netwerke, het daartoe gelei dat ‘n hond ook háár dag gekry het.

Bella, ‘n tweejarige boerboel, het haar nuwe vryheid en beweeglikheid te danke aan ‘n groep diereliefhebbers wat binne slegs vier dae genoeg geld ingesamel het vir ‘n peperduur heupoperasie. Sy het Vrydag dié prosedure ondergaan.

“Bella is ‘n uiters aktiewe hond,” het haar eienaar, mnr. Pierre Claasen gesê. “Eendag het sy uit oudergewoonte iets op ons terrasse gejaag. Toe sy omdraai om terug te kom, kon ek sien hoe sy vinnig spoed verloor en toe net op die gras neerplonk.”

Saam met dr. Christo Nortjé van Van Wijkstraat Dierehospitaal.

Claasen het haar na ‘n plaaslike veearts geneem wat vermoed het dat die ligamente in Bella se regteragterpoot geskeur is. “Hy het gesê die operasie sou R5 000 beloop. Ek het geweet ek kon dit nie betaal nie en dit het my hart gebreek.”

Claasen se vriend, mnr. Reinhardt Eloff, het toe besluit om ‘n kans te vat en vir Bella haar eie Facebook-blad geskep. Hiermee sou hy mense vir finansiële bydrae vra sodat Bella haar operasie kon ondergaan.

Ek het verlede Maandag die blad begin en teen Donderdag het ons genoeg geld ingesamel sodat Bella Vrydag geopereer kon word. Dit was ongelooflik om te sien hoe mense, wat glad nie eens vir Bella ken nie, hulle vriende ook aanmoedig om geld te skenk.

Dr Christo Nortjé en Bella ná se operasie.

Claasen en sy vriend het haar na Van Wijkstraat Dierehospitaal vir die ligamentoperasie geneem. Maar, toe dr. Jaco Coetzee haar ondersoek, het hy ontdek dat dit nie die ligament was wat geskeur het nie, maar dat die hele bokant van die femur vergruis was.

“Ons was dadelik paniekbevange,” het Eloff vertel. “Ons was bekommerd dat ons dalk nie genoeg geld sou hê nie. As ons mense dan vir meer moes vra, sou hulle dalk dink dat die fondsinsameling ‘n skelmstreek was.”

Maar, wonder bo wonder, het dié operasie, asook al die koste om Bella in die hospitaal te hou, presies R5 000 beloop. “Ons was in ekstase,” het Claasen gesê. “Ons was baie gelukkig, in elke sin van die woord.”

Lees meer oor Van Wijkstraat-dierehospitaal hier:

Storm die marmoset-apie

James die eekhoring 

Kuifie die duiker

Bella is Saterdag huis toe nadat die kop van haar femur verwyder is. Volgens Eloff was die moeilikste taak van die hele ontbering om haar ná die operasie stil te hou.

“Omdat sy so woelig is, was dit vir haar aaklig om vir so lank so stil in die huis te moes sit,” het Claasen vertel. “Sy sal so min as moontlik moet beweeg totdat die snywond heeltemal genees het.”

Claasen wil graag almal wat tot Bella se fonds bygedra het, hartlik bedank. “Graag wil ek ook vir Reinhardt vir sy bereidwilligheid en tegniese vaardighede bedank, asook vir Van Wijkstraat Dierehospitaal vir hulle fantastiese werk en omgee.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version