Luiperd en vlakvarke sorg vir skouspelagtige foto’s

Sekondes later het die ma weer by my kar verby teruggestorm na die luiperd en sy vlakvark-vangs. Sy het haar kop laat sak en die luiperd met 'n groot slag getref. Dit het die dier deur die lug laat trek, maar hy het aan sy prooi bly klou

MBOMBELA – Mnr. Koos Fourie van Vanderbijlpark se treffende foto’s van ‘n luiperd wat vlakvarke vang, het binne net 17 uur reeds meer as 360 likes op Facebook gehad.

Dit was eintlik ‘n vloekskoot dat Fourie, wat ondervoorsitter van Vanderbijlparkse Fotografiese Vereniging is, die foto’s tydens ‘n besoek aan die Nasionale Krugerwildtuin verlede jaar kon neem. Dit is reeds op 2 Junie verlede jaar geneem, maar Fourie het dit nou eers op Kruger National Park Experiences gelaai en dit het groot aftrek gekry.

Fourie het vertel dat hy en sy kinders op die Salitje-pad in die wildtuin gery het. “Ek het voordat ons vanaf Skukuza vertrek het, my kamera gestel om ‘n hoë sluiterspoed te kry, sou ek diere of voëls teëkom wat beweeg ten einde die aksie gevries te kry en ‘n skerp foto te kon neem.”

Hy het drie vlakvarke in die grondpad gesien draf en besluit om hulle af te neem. “Ek het my kamera opgetel en begin om die toneel se komposisie op te stel. Net toe ek die vlakvarke in fokus kry en die sluiterknoppie druk om die foto te neem, was daar skielik ‘n groot geskarrel en ‘n geskreeu vir ‘n vale.

“Ek het gedink die twee klein vlakvarkies wou met mekaar baklei en gedink ek kry ‘n bonus om af te neem. Ek het reeds voor die tyd die hoë spoed aaneenlopende opsie (high speed continuous mode) gekies en het net die sluiterknoppie bly druk om foto’s van die aksie vas te vang.

Lees ook: Visitors to Kruger lucky enough to find rare sight

“Die volgende oomblik het ek ‘n ander kleur as die vlakvarke deur my kamera se view finder opgemerk en aangehou om foto’s te neem.

“Dit was ‘n luiperd wat een van die vlakvarke gevang en op die grond vasgedruk het.”

Fourie kon sy geluk nie glo nie. Die ander twee varke – ‘n sog en haar kleintjie – het intussen verby sy voertuig gehardloop. “Sekondes later het die ma weer by my kar verby teruggestorm na die luiperd en sy vlakvark-vangs. Sy het haar kop laat sak en die luiperd met ‘n groot slag getref. Dit het die dier deur die lug laat trek, maar hy het aan sy prooi bly klou.

” ‘n Tweede kopstampsessie het gevolg en die luiperd het die kleintjie gelos en is van die pad af waar ‘n stormwaterpyp was. Die luiperd het terug op die pad geklim, net om te sien hoe die vlakvarke weghardloop. Daarna het die luiperd stert tussen die bene voor ons oor die pad gesluip en in ‘n bos langs die pad gaan sit. Hy het sy tande vir ons gewys en toe in die bosse verdwyn.”

Fourie meen alles het in minder as 60 sekondes gebeur.

“Die geveg was heen en weer oor die pad en van die een kant terug na die ander. Dit het my fotografiese vermoëns behoorlik getoets. Die les wat ek geleer het is om altyd voorbereid te wees vir enige aksie wat in die natuur na jou kant mag kom.

“Jy gaan in baie gevalle slegs sekondes of selfs ‘n breukdeel van ‘n sekonde hê om die foto te neem. In die geval was ons onsettend gelukkig om op die regte tyd op die regte plek te wees, met my kamera gereed om ‘n foto te neem. Ons was boonop die enigste voertuig daar gewees het en die voertuie wat minute later daar opgedaag het, was te laat om enige van die ongelooflike aksie wat daar afgespeel het, te kon geniet.”

Exit mobile version