Plaaslike boere is onder kwaai druk

Die land se kosprodusente ontvang nie die nodige ondersteuning van die regering nie.

HAZYVIEW – Boere word nie goed deur die regering ondersteun nie en dit terwyl die land se voedselsekuriteit daagliks minder seker word.
Agri Mpumalanga het verlede week Donderdag sy jaarlikse kongres by Numbi Hotel aangebied. Die tema was die volhoubaarheid van kommersiële landbou in die lig van die heersende ekonomiese en politieke klimaat.

Wat duidelik uit dié dag geblyk het, is dat die land se kosprodusente nie die nodige ondersteuning van die regering geniet nie. Ekonoom dr. Roelof Botha het die volhoubaarheid van Suid-Afrika se ekonomiese herstel bespreek. Hy is baie positief oor die herstel wat hy verwag.

Tog sê hy dat die boerebevolking vinnig verouder aangesien jongmense nie kans sien om die bedryf wat baie kapitaal en bekwaamheid verg, te betree met die beperkte ondersteuning waarna hulle kan uitsien nie. “Daar is nie ‘n tekort aan grond nie, plase is op die ope mark beskikbaar en daar is groot dele vrugbare regeringsgrond wat onbewerk lê.

“Boere is hier onder meer druk as op enige ander plek op aarde,” sê Botha, en verduidelik dat kosprodusente elders goeie subsidies van die staat ontvang, juis omdat hulle kos moet kweek.

Mnr. Gideon Anderson, president van Mpumalanga Landbou sê voorspelbaarheid en stabiliteit in landbou behoort nie onderhandelbaar te wees nie. Dit is ten spyte van teleurstellings in politieke uitsprake, soos die minister van grondhervorming mnr. Gugile Nkwinti se onlangse aankondiging in die parlement, dat wetgewing wat grondbesit beperk vanjaar nog deurgevoer sal word.

“Dit is georganiseerde landbou se verantwoorde-likheid om betrokke te bly by die proses om die minister se oor te behou en die ekonomiese argument te kan voer,” sê Anderson. “Boere produseer kos onder moeilike ekonomiese omstandighede. Die meeste het nog ‘n positiewe ingesteldheid en dit moet nie geïgnoreer word nie.”

Mnr. Johannes Möller, president van Agri SA sê die regering se persepsie is weer dat daar te min transformasie in landbou is en dat arbeidskwessies nie goed hanteer word nie. “Dit is óf waar, óf hierdie persepsie word geskep en ons moet daaraan aandag gee.” Volgens hom sal Agri SA hom daarop toespits om boere suksesvol te vestig en meer jongmense na landbou te lok.

Botha het boere aangeraai om by georganiseerde landbou betrokke te bly, sodat hulle sterk genoeg is om hulle tot die howe te wend indien nodig. Hy het Agri ook aangemoedig om te verseker dat voedselsekuriteit tydens alle samesprekings op die tafel bly.

Exit mobile version