Hard newsHealthLifestyleLocal newsNewsNewsPeople

Stamselle om Henno se herstelproses te bespoedig

"Die dokter se prognose was 95 persent verlamming van dié werwel af. Sy positiewe gesindheid het hom egter gemotiveer om vinnig te herstel en nou kan hy al met hulp loop."

WITRIVIER – Henno Smit (11), wat nou al vir meer as ‘n jaar gedeeltelik verlam is, kan nou al amper self trappe klim nadat hy verlede week vir die eerste keer stamselle ontvang het.

Henno was in 2014 in ‘n fratsongeluk waarin hy sy vyfde nekwerwel ernstig beskadig het. Sy pa, mnr. Hennie Smit, sê die werwel was vergruis en groot dele daarvan moes verwyder word. “Die dokter se prognose was 95 persent verlamming van dié werwel af. Sy positiewe gesindheid het hom egter gemotiveer om vinnig te herstel en nou kan hy al met hulp loop.”

Laevelder het verlede week berig dat ‘n groep hengelaars van die Laeveld van Henno se storie te hore gekom het, en binne minute duisende rande vir hom ingesamel het. Hy het ‘n maand gelede plaatjie-ryke plasmabehandeling (PRP) by dr. Hein van Wyk in Witrivier begin ontvang. Ná vier PRP-behandelings het hy verlede Dinsdag vir die eerste keer ook stamselle ontvang. Van Wyk sê Henno se verbetering is verstommend. “Toe hy die eerste keer vir behandeling gekom het, was hy in ‘n rolstoel. Die derde keer het hy met behulp van sy ma ingestap,” sê Van Wyk.

Hennie sê hy moes altyd sy hand onder sy seun se been gesit het om hom te help om trappe te klim. “Nadat Henno verlede maand plaatjies begin ontvang het, kan hy amper self die trappe te klim.

“Ons hou hom nog steeds vir ondersteuning vas, maar hy kan self sy bene optel om die trappe te klim. Hy het ook baie blaasinfeksie gekry en was permanent op antibiotika. Vandat ons met die PRP begin het, is die infeksie heeltemal weg.”

Die seun sukkel nog om sy hande te beheer omdat die senuwees beskadig is.

“Sy hande is maar nog dieselfde, maar Van Wyk sê ons moet dit nog so ‘n maand kans gee om te sien of dit gaan verbeter.”

Back to top button