KNP se spesiale oë in die lug

Forensiese werkers kan DNS-monsters vinniger insamel as hulle vlieg, as wanneer hulle moet ry. Die blik uit die helikopter stel hulle ook in staat om die karkasse vinniger op te spoor.

MBOMELA – “Ek is niemand spesiaal nie. Ek is net passievol oor bewaring en lief vir vlieg.”

Tokkie Botes is beskeie oor sy rol in anti-renosterstroopbewegings in die Nasionale Kruger Wildtuin (NKW), maar sy bydra as helikoptervlieënier is eintlik van onskatbare waarde. Die enigste hindernis wat die projek in die gesig staar, is die gebrek aan borge.

Botes, ‘n besigheidseienaar van Skeerpoort in Gauteng, is in September verlede jaar deur Hugh Payne, ‘n NKW-ereveldwagter, genader om forensiese spanne van een renosterkarkas tot die volgende te vlieg met die doel om DNS-monsters van die karkasse, en moontlik die stropers, in te samel. Hy het die gebruik van een van sy helikopters, ‘n Bell Jet Ranger 206, sowel as 50 vliegure aan die projek geskenk.

“As dit by bewaring kom, help ek waar ek kan.”

Botes sou al sy tyd en geld aan die projek bestee as hy kon, maar hulle kort nou dringend borge vir brandstof. Buiten die geborgde vliegure, het Tokkie reeds tussen 80 en 90 uur gevlieg.

Hy is die enigste onafhanklike vlieënier wat deel van die projek is. Saam met hom vlieg die weermag, polisie en die NKW ook met hul vliegtuie en helikopters. Verlede jaar het hy ‘n brief van uitvoerende lid van die ereveldwagters se fondsinsamelingskomitee, David Webster, ontvang wat vir hom toestemming gegee het om fondse namens SANParke in te samel, maar dit was tot dusver geen maklike taak nie.

“Ons sukkel om borge te kry. As ons borge kan kry, kan ons die operasie vir baie langer aanhou. Ek dink nie mense weet wat ons doen of hoeveel só ‘n operasie werklik kos nie.”

Forensiese werkers kan DNS-monsters vinniger insamel as hulle vlieg, as wanneer hulle moet ry. Die blik uit die helikopter stel hulle ook in staat om die karkasse vinniger op te spoor.

“Ons wil eintlik so gou as moontlik by die karkas uitkom om so vroeg as moontlik op die stroper se spoor te klim. As die bewyse nog vars is, maak dit die vastrekking soveel makliker en vinniger. Botes kon nie kommentaar lewer op die vraag of hulle stropers uit die lug uit kan sien nie, maar sê hul projek fokus meer op forensiese werk ná die stropery.

“Ons doen maar meer die vuil werk van antistropery. Ons kom by die toneel as die dier reeds dood is. Ek kan wel sê dat die helikopter se toevoeging tot die projek van onskatbare waarde is. As veldwagters te voet of te kar moes beweeg, is hul aanslag baie beperk. Uit die lig uit, sien ons omtrent tien keer soveel karkasse per dag as wat die wagters te voet sien,” het hy gesê.

Tokkie is al sy hele lewe lank by antistroopgroepe betrokke. “Ek werk al jare saam in antiluiperdstropery en werk gereeld met plase in Noord-wes, Limpopo en Mpumalanga.”

Vir meer inligting oor sy operasies en terugvoer oor sy betrokkenheid, besoek sy Facebook-blad, Flying for Freedom. Diegene wat graag ‘n bydra tot die fonds wil maak, kan skenkings direk aan die SANParks Honorary Rangers-organisasie maak. Navrae: www.sanparksvolunteers.org

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version