Trane rol by Dr Van Wyk se stamseldemonstrasie

Dié onkonvensionele dokter het sy baanbreker mediese navorsing aan die Vroue Landbou Unie se Flamboyant-tak gedemonstreer.

MBOMBELA – Dr. Hein van Wyk het hierdie week ‘n roerende lesing en demonstrasie oor sy stamselnavorsing aan lede van die Vroue-Landbou-Unie (VLU) se Flamboyant-tak gelewer.

Van Wyk het Dinsdag by die NG Kerk Suid gedemonstreer hoe ‘n plaatjieryke plasma- (PRP) en stamseloortapping gedoen word. ‘n Vyfjarige serebraalgestremde tweeling, Lara en Benjamin Smith, het elk ‘n toediening van geaktiveerde PRP voor die gehoor ontvang. Hulle sal uiteindelik stamselle ná die geaktiveerde PRP ontvang, mits genoeg fondse vir hulle ingesamel word.

Van Wyk het die Smith-tweeling se eerste toediening gratis gedoen. Hierna sal hulle elkeen nog twee gratis toedienings PRP ontvang, maar dan sal hul ouers,  Sanmari en Gert, self vir die stamselbehandeling moet opdok.
“Dit is ‘n duur proses en mense het nie altyd R15 000 vir elke toediening nie,” het Van Wyk gesê. “Daarom het ons ‘n fonds gestig waarin mense skenkings kan maak om minder bevoorregte pasiënte te akkommodeer.”

Skenkers sal binnekort betalings in die rekening kan maak. “Ons moet nog net ‘n paar administratiewe kreukels uitstryk,” het Van Wyk gesê.

Selna Knott van die VLU se Flamboyant-tak is huisvriende met Van Wyk en het hom genader om die lesing tydens hul gesondheidsmaand te lewer.

Dr Van Wyk spreek die Vroue Landbou Unie se Flamboyant-tak aan.

Laevelder het in Desember 2014 berig hoe bloedplaatjieryke plasma (PRP) en stamselle ‘n anti-inflammetoriese effek, en dus ‘n verligtende uitwerking op die spastisiteit van serebraalgestremde pasiënte het.

“Die PRP vind die afbraak in die liggaam en stuur dan ‘n roepsein na die stamselle,” verduidelik die dokter. “Stamselle kan enige weefsel of sel word, en die PRP ‘wys’ vir die stamselle watter weefsel om te word.

“Ek het lank getob oor of die demonstrasie ‘n goeie idee is of nie, maar toe ek die oproep van die VLU kry, kon ek nie die idee van ‘n demonstrasie laat vaar nie,” het Van Wyk gesê. “Die oomblik toe dit verby is en ek sien die vroue se emosionele reaksies, het ek geweet ek het die regte ding gedoen.”

Exit mobile version