Nóg twee perde doodgery

"Ek is lus om foto's van die dooie perde langs die pad op te plak, met die onderskrif 'Hier is ek dood omdat ek by die pad gevoer is'.

KAAPSEHOOP- Inwoners van dié historiese dorpie rou oor die verlies van twee van hul mooiste hingste wat doodgery is.

Die jongste voorval het Saterdag omstreeks 01:30 etlike meter buite die dorp se ingang plaasgevind.

Die bestuurder van die 2006 Alpha Romeo, Mr Claude Tollemache (24) het die aand in Kaapsehoop gekuier en was in die vroeë oggendure op pad terug na sy huis in Ngodwana. Dit is tóé dat die dier in die pad gestaan het.

“Die perd was in die pad en Claude het hom nie gesien nie,” sê sy pa, Anthony.

‘n Man wat naby die toneel bly en die slag gehoor het, mnr. Danie Cilliers, sê toe hy oomblikke later daar aankom, het hy drankbottels buite die voertuig sien lê.

Tollemache se pa ontken dat die drankbottels met die voorval verbind kan word. “Ja, daar was drie bierbottels in die kar, maar hulle lê al baie lank daar. Claude se bloed-alkoholvlak is nooit getoets nie, so daar is geen bewyse dat hy onder die invloed van alkohol was nie.” “Daar was ‘n lang bloedspoor van die pad tot in ‘n nabye sloot,” sê Cilliers. “Ons het die perd se karkas in die sloot gekry. Ons vermoed die perd het nog gelewe as gevolg van merke teen die sloot se hange wat aandui dat die dier daar probeer uitklim het.”

Die voertuig is as afgekryf. Die saak is by die polisie aangemeld, maar Tollemache is nie aangekla nie. Dié voorval is die tweede van sy soort in ‘n week. Op 1 Februarie, tydens ‘n hewige storm, is nóg ‘n perd doodgery. Me. Reinette van Niekerk het haar vir die afgelope 12 jaar oor die diere ontferm.

“My hart is stukkend. Die perd wat eerste raakgery is, was as ‘Mister J’ in die dorp bekend. Ek het hom as vulletjie aangeneem en hy het vir ‘n ruk by my huis gebly. Hy het gedurig die mense in die dorp kom groet.”

Van Niekerk sê Mister J was een van die mooiste hingste. “Hy kom van ‘n besonderse bloedlyn met sterk spiere en ons wou graag hê hy moes aanteel.”

Sy glo die perde raak té gemaklik met die pad omdat motoriste die diere vanuit hul motors voer. Sy maan dat gaste hulle nie so na die nie pad toe moet lok nie. “Dit ruk nou handuit. Mense verstaan nie die skade wat hulle aanrig deur dit te doen nie. Die perde assosieer die pad met kos en nie gevaar nie.”

Van Niekerk is moedeloos en soek nou borge om nog meer kennisgewingbordjies langs die pad op te rig. “Ek is lus om foto’s van die dooie perde langs die pad op te plak, met die onderskrif ‘Hier is ek dood omdat ek by die pad gevoer is’. Ek het al probeer om toestemming te kry om die perde te laat skuif na ‘n ligging ver van die pad af, maar omdat die perde aan niemand behoort nie, mag ek dit die doen nie.”

Die karkasse het Woensdag nog langs die pad gelê. Gewoonlik verwyder Van Niekerk hulle self, maar dié keer was sy nie in die dorp om dit te doen nie. Mnr. Joseph Mabuza, voorvoerder van die departement van gemeenskapskakeling, veiligheid en sekuriteit, sê gevalle waar diere beseer word maar mense nie, word selde gerapporteer.

Exit mobile version