ANC vra dat regering Innibos boikot

Die verklaring lui verder: "die gebeurtenis (Innibos) wil nuwe lewe in die apartheidskultuur en -erfenis blaas, wat op die beginsel geskoei was dat swartes oor die algemeen en Afrikaners spesifiek, minder mens is, onbeskaafde en barbaarse mense"

MBOMBELA – Die ANC het vandag op ‘n mediakonferensie gevra dat die regering op provinsiale en munisipale vlak, Innibos boikot.

Die konferensie is gehou na dié politieke party se provinsiale Lekotla die afgelope naweek. Die party is van mening dat die kunstefees teenstrydig is met sy en die regering se versoeningspogings van die afgelope 21 jaar.

“Dit druis in met ons program van rasse-integrasie. Eenvoudig gestel, die organiseerders van Innibos het dit ten doel om ‘n platform daar te stel wat rassehaat in Suid-Afrika en Mpumalanga aanwakker, veral tussen Afrikaanssprekendes en ander Afrika-gemeenskappe,” lui ‘n verklaring deur die ANC.

Die party meen verder dat die gebeure by verlede jaar se Innibos, met verwysing na Steve Hofmeyr wat Die Stem gesing het, wys dat die kunstefees se ideologiese beginsels daarop geskoei is om  “wit Afrikaner-meerwaardigheid en -oorheersing” bevorder. Die verklaring lui verder: “die gebeurtenis (Innibos) wil nuwe lewe in die apartheidskultuur en -erfenis blaas, wat op die beginsel geskoei was dat swartes oor die algemeen en Afrikaners spesifiek, minder mens is, onbeskaafde en barbaarse mense”.

Die party het voorts gevra dat die regering geensins aan die beplanning van Innibos sal deelneem of enige diens sal bied nie, totdat politieke besprekings tussen die ANC en Inibos se organiseerders plaasgevind het.

Innibos het reeds aangedui dat Hofmeyr nie na hierdie jaar se fees genooi is nie, juis omdat sy omstrede uitlatings verdeeldheid onder Afrikaanssprekendes en ook tussen laasgenoemde en ander kultuurgroepe, saai.

Me. Sandra Jacobs, media- en bemarkingsbestuurder van Innibos, het by navraag gesê dat sy ‘n verklaring in reaksie hierop sal uitreik. Sy het ook aangedui dat Innibos dadelik met die ANC in gesprek sal tree.

 

Exit mobile version