Hard newsNewsNewsWar against poaching

SANParke trek sy neus op vir renosterbeeld

Hy sou gister (Donderdag) weer met beamptes van SANParke oor die lot van die beeld in gesprek wees

SKUKUZA – ‘n Renosterbeeld wat tans in onbruik is omdat die bestuurder van die lughawe glo gevoel het dis “gevaarlik”, het ‘n reusedebat op sosiale media ontketen. Wildtuinliefhebbers is die josie in en die algehele gevoel is dat SANParke eintlik nie ‘n dooie duit vir renosterstropery voel nie.

Mnr. John Morgan van Hazyview is ‘n gereelde besoeker aan die Nasionale Krugerwildtuin en was geskok toe hy besef dat daar nie ‘n teenstropingsuitstalling by Kruger Mpumalanga Internasionale Lughawe is nie. Hy wou by die stryd teen stropery betrokke raak en het die metaalbeeld teen R10 000 laat maak. Hy het dit in September verlede jaar aan SANParke geskenk en daar is besluit om dit by die nuwe lughawe op Skukuza ten toon te stel.

Hy is later meegedeel dat die renoster nie meer daar uitgestal word nie en het navraag gedoen. “Ek is ingelig dat die bestuurder van die lughawe van mening was dat die beeld ‘gevaarlik’ was. Kinders het glo op die beeld geklouter en daar is gevrees dat hulle daar kon afval,” het Morgan by navraag gesê.

Vreemd genoeg is dit toe met ‘n beton een van ‘n renoster vervang waarop kinders ook sou kon klouter. Morgan se beeld is aanvanklik gebruik om renostervoëls vir teeldoeleindes te vang voordat dit verwyder is. “Iemand op bestuursvlak sou later besluit of dit elders ten toon gestel sou word,” het Morgan bygevoeg. Kort hierna is daar egter vir hom gesê dat hy liefs die beeld moet kom haal omdat daar streng voorskrifte is oor wat in die wildtuin uitgestal mag word.

“Ek het nie bedoel dat die hele debakel in ‘n mediasirkus moes ontaard nie,” het Morgan bygevoeg. Hy sou gister (Donderdag) weer met beamptes van SANParke oor die lot van die beeld in gesprek wees. “Voorlopig gaan ek dit Maandag haal en dit gaan moontlik by Sabie Valley Coffee uitgestal word.”

Sommige Facebook-gebruikers het gemor dat die beeld se voorpote nie anatomies korrek is nie en dat SANParke dalk Morgan se gevoelens wou spaar.

Mnr. Ike Phaahla, ‘n SANParke-woordvoerder, het gesê dat skenkings in die oorlog teen renosterstropery baie waardevol is, maar dat belangstellendes SANParke liefs vooraf moet kontak om uit te vind wat presies die behoefte is. “Elke poging van die publiek word opreg waardeer.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button