Koedoe-kalfie vrek na komplikasies

Die wees koedoe-bulletjie, wat almal se verbeelding aangegryp het, het gevrek

WITRIVIER – Die koedoe-bulletjie, wat twee weke gelede deur die staatsveearts gered is, is dood. “Klein Moses het onder my vel ingekruip soos ‘n lieflingtroeteldier en ek het baie sleg gevoel toe hy dood is.”

Dit is die woorde van die staatsveearts, dr. De la Rey Brugman, toe hy Moses se outopsie-verslag met Laevelder gedeel het.

Staatsveearts Dr De la Rey Brugman by Moses

Die verslag het getoon dat al Moses se urinêre organe abnormaal ontwikkel het. Nie net was dit onderontwikkel nie, maar volgens dr. Brugman was die organe op die verkeerde plekke geleë en sy blaas en niere heeltemal vergroot.

“Moses het aan hidronefrose gely, wat letterlik ‘water in die niere’ beteken en is uiteindelik aan nierversaking dood,” sê Brugman.

Moses, die wees koedoe-bulletjie in beter dae

Volgens hom was dit ‘n wonderwerk dat die kalfie so lank gelewe het en sou hy nooit lank in die natuur oorleef het nie.

Brugman het die boodskappe van die publiek baie waardeer en mense het daagliks by die rebalitasiesentrum opgedaag om vir Moses te kom kuier.

“Die klein koedoe-bulletjie het mense se verbeelding aangegryp en dit is so jammer dat dit nie ‘n gelukkige einde gehad het nie, maar dit was vir my lekker om vir ‘n rukke deel van hierdie diertjie se lewe te kon wees.”

Vir Laevelder was dit ook ‘n ervaring om die paadjie, hoe kort ook al, saam met dié koedoe-bulletjie te kon stap.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version