In ‘n krokodil se kake – Christiaan Bakkes 21 jaar na die aanval

SWAKOPMUND – Dis nou net mooi 21 jaar sedert ‘n ander krokodilaanval op een van hulle mense, die hegte gemeenskap van die Kruger Nasionale Park ook soos onlangs, geruk het. Die latere avontuurskrywer, Christiaan Bakkes, was ‘n staptoerveldwagter toe hy ook in die kake van ‘n krokodil beland het. Sy broer, die oud-televisieregiseur en joernalis …

SWAKOPMUND – Dis nou net mooi 21 jaar sedert ‘n ander krokodilaanval op een van hulle mense, die hegte gemeenskap van die Kruger Nasionale Park ook soos onlangs, geruk het. Die latere avontuurskrywer, Christiaan Bakkes, was ‘n staptoerveldwagter toe hy ook in die kake van ‘n krokodil beland het. Sy broer, die oud-televisieregiseur en joernalis Marius Bakkes, het weer die feite bymekaar gekry:

Anders as met die onlangse noodlottige krokodilaanval op Jacques van der Sandt by die golfklub op Skukuza, was die aanval op my broer ‘n bloedige gespartel. Daar was meer as een krokodil wat hom getakel het. Hierdie geveg om lewe en dood beskryf hy self in een van sy boeke.

Ofskoon Christiaan met sy lewe daarvan afgekom het, is sy linkerarm in die geveg afgeruk. Die moontlikheid was groot dat hy die ander arm ook kon verloor. Omdat sy bolyf oral erg verskeur was het die gevaar van bakteriese infeksie die kanse op oorlewing feitlik onmoontlik gemaak.

Die bekende matrone Elsa Cloete van Mediclinic hier in Nelspruit het daardie nag die plaaslike sjirurg dr. Von Welfling Eybers as teatersuster bygestaan. Sy vertel dat die pasiënt teen negeuur die aand by die teater ingestoot is. Die operasie het tot ligdag geduur. Daar was bitter min hoop.

In die loop van die nag het ons swaer, dr. Francois de Jager, ‘n ortopetiese sjirurg, van Pretoria gevlieg om by die operasietafel aan te sluit en dr. Eybers te assisteer. Later het nog ‘n dokter uit Johannesburg bygekom. By haar had sy ‘n nuwe serum wat sy aan die ontwikkel was teen sulke bakteriese infeksie. Cloete vertel dat die middel net so op die oop wonde aangewend is. Baie glo dit was hierdie eksperiment wat Christiaan se lewe gered het.Dokters Eybers en de Jager is deesdae suksesvolle spesialiste in Kanada.

In sy eerste roman, Die lang pad van Stoffel Mathysen, skryf Christiaan self wat daardie noodlottige dag in 1995 gebeur het. Dit was ‘n Saterdag. Hy was as staptoerveldwagter by Orpenhek gestasioneer en was van diens af. Hy het vriende met ‘n wildsplaas in die Timbavati net langsaan, besoek. Hulle het in die veld gaan ry en bier gedrink.Die twee gronddamme bymekaar, twee wildsuipings, het hy geken. Elkeen het sy eie krokodil gehad. Soms het die krokkodille oor en weer beweeg. Daardie middag was daar net een sigbaar teen die oorkanste wal. Sedert sy dae as diensplig-veldwagter langs die Kwando in die Caprivi was dit die gewoonte om vinnig in te duik, af te koel en gou weer uit te kom sonder dat iets iemand ooit gebyt het. Hy skryf:

“Ek draai na die wal toe en begin uit die water stap. Ek sien my drie vriende se verstarde gesigte. Dan sien ek die geel oë deur die oppervlakte breek. Met geweldige krag sluit die die krokodil sy kake om my regterskouer. Onmiddelik swaai hy sy stert en vou my dubbel. My kop verdwyn onder die water. Die krokodil skud my soos ‘n hond.”

Op bladsy 120 van sy boek skryf Christiaan hoe hy tog daarin kom slaag om op sy voete te bly. Dis ‘n saak van lewe en dood. Hy voel hoe sy skouerspiere van die been afgestroop word. Hy skree aan sy maat (in die boek noem hy hom Jimmy) om sy rewolver uit die bakkie te kry. Die oorkantste krokodil is ook nou oppad. Met die krokodil aan sy skouer beur hy kant toe. Om hulle spat die koeëls in die water. Hy skryf:

“Ek is nou halflyf in die vlakwater. Die skote klap om my. Die krokodil besef hy gaan my nie omkry nie. Hy los my skouer en swem weg. My arm met die verminkte skouer reik uit en sluit om Jimmy se gewrig.

“Pas op!” roep Wayne van agter Jimmy. Ek kyk om en gooi my linkerarm op.

Die tweede krokodil lig homself van vier meter weg uit die water. Sy kragtige stert dryf hom aan. Sy kake omsluit my voorarm. Dit klink soos nog ‘n rewolwerskoot wat afgaan toe die krokodil met die draai van sy lyf my voorarm afbyt en my bo-arm versplinter. Ek sien hoe sy swaar lyf terugval in die water met my hand wat by die een kant van sy bek uitsteek…”

Christiaan besoek nog graag die Laeveld. Hier kuier ons saam met my hondjie Steffi by my huis in Nelspruit.

Vroeg vanjaar het Christiaan my een oggend uit Namibië gebel. Hy was op soek na die telefoonnommer van Brent Pirow, vandag ‘n bekende sakeman hier in Nelspruit. “Ek wil hom graag skakel. Dis vandag net mooi 20 jaar sedert Brent my lewe gered het”.

Brent-hulle het hom agter op die bakkie gelaai en na die lugmagbasis op Hoedspruit gejaag. Vandaar is hy per weermaghelikopter na Mediclinic Nelspruit geneem. Hy het geveg om nie bewusteloos te raak nie. Hy het Brent gevra om liewer sy swaer te bel as ons bejaarde ouers in Pretoria. My suster Mathilde kon dit hanteer.

In sy huis in Waterkloof in Pretoria was swaer Francois en sy stiefpa, prof. Len Becker voor die televisie besig om krieket te kyk toe die telefoon lui. Om Len was op daardie tydstip voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese en Tandheelkundige Raad. Hy het onmiddelik onthou van ‘n mediese patoloog wat besig was met die ontwikkeling van ‘n antibakteriese serum wat nodig was in gevalle soos die.

Franscois het op daardie stadium ‘n diensooreenkoms met 1 Militêre Hospitaal op Voortrekkerhoogte gehad. Met die afloop van die grensoorlog en sy talle landmynslagoffers was vermiste ledemate nie vir hom ‘n vreemde verskynsel nie. Hy het lt. Christiaan Bakkes onmiddelik onder sy dienspligrang laat opneem. Hy het opdrag gegee dat hy eers na Mediclinic Nelspruit afgevoer word.

‘n Week later is hy na 1 Militêr gebring waar – anders as vandag – net die beste mediese behandeling beskikbaar was.

Die parkhoof van destyds, dr. Salmon Joubert – en in alle reg – het min simpatie getoon. Christiaan was ‘n risiko. ‘n Wildtuinbakkie met hom agter die wiel was ‘n ruk vantevore deur ‘n olifant deurboor. Op ‘n ander geleentheid moes hy ‘n buffel op kort afstand doodskiet toe hy te voet deur die park op pad was om hulp te kry na sy bakkie vasgeval het.

Met sy stompie het Christiaan weer gou leer skiet, sekuur soos vroeër, maar in die wildtuin was daar nie meer vir hom plek nie. My pa het vir hom ‘n huisie in Marlothpark gekoop, maar Christiaan het liewer hinkepink deur Afrika gaan reis. Uiteindelik in die dorre Kaokoveld van Namibië is hy by die Wêreld Wildlewestigting in diens geneem om die plaaslike bevolking as veldwagters op te lei.

Dis hier op Fort Sesfontein waar hy begin skryf het. Vandag is dit vier bundels kortverhale en twee romans later. Een is ‘n voorgeskrewe werk vir standerd sewes. Onlangs was daar bietjie polimiek oor die een of meer vloekwoorde in die boek. Dit het self gelei tot ‘n spotprent in Beeld. Sy jongste roman, Krokodil aan my skouer is vroeër vanjaar by die Woordfees op Stellenbosch bekendgestel.

Christiaan is later as konsessiebestuurder en toergids by Wilderness Safaris aangestel. Dit is een van die voorste safari-ondernemings in Afrika. Deesdae reis hy die wêreld vol na internasionale reisskoue om sy organisasie te verteenwoordig.

Met Amerikaanse befondsing is hy ook aan die voorpunt van die anti-renosterstropingsprogram in Namibië. In Namibië is daar renosters wat nog in die laaste ware wildernisgebiede in Afrika hou, sonder heinings en bewarinsgbeskerming.

Na baie jare is Christiaan ook nou ‘n Namibiese burger. Hy was getroud maar geniet deesdae die geselskap van ‘n mooi regsgeleerde uit Amerika wat haar in Namibië kom vestig het. Ofskoon sy talle kampe oor die grootste gedeelte van die noord-westelike woestyngebied van Namibië, van Sossusvlei in die Namib tot Rhino Camp in Damaraland, Palwag in die Kaokoveld, Angra Frio teen die Skedelkus en Serra Cafema by die mond van die Kunene teen die grens met Angola, meestal sy woning is, deel hy en Marcia Fargnoli ‘n gesellige woonstel in die skilderagtige kusdorp Swakopmund.

‘n Groot hoogtepunt in sy loopbaan was vroeër vanjaar toe hy deur die gesaghebbende Amerikaanse reistydskrif, Condenast Travel as een van die 25 voorste safari-leiers in Afrika aangewys is.

Christiaan met ‘n Laeveldse vriendin, Jenny Schorman, van Nelspruit. 

Daar was ook onlangs ‘n berig oor sy prestasie in die Namibiese dagblad, Republikein. Nog ‘n bekende oud-Laevelder wat nou as joernalis in Namibië werk, Mariana Balt, het oor hom geskryf. Sy het my sy antwoord op haar persnavraag laat kry:

Sedert ek kon onthou wou ek nog altyd ‘n avontuurlike beroep in die buitelewe beoefen. Ek is van kleins af getrek deur die natuur. Dit was asof die wildernis my geroep het.

As kind het my pa ‘n naweekplasie buite Pretoria gehad. Daar was kliprante en beboste klowe en ‘n rivier. Dit is waar dit begin het. Ek het besef dat as ek my liefde vir die buitelewe kombineer met my liefde vir die natuur dat ek ‘n diens kan lewer en ‘n verskil sal maak.

Die lekkerste deel van my beroep is om elke dag die wildernis te verken. Die ooptes en die wydtes van die Kaokoveld bekoor my oneindig. Dit is ook lekker om ‘n woestynolifant of swart renoster te agtervolg. Dit gaan oor vryheid. Om die wildernis lief te hê is bevrydend. Dit is ook wonderlik om te sien hoe die wildernis deur jou interpretasie vir gaste openbaar word.

Ek dink my passie en my energie maak my suksesvol. Ek het ‘n opregte liefde vir die veld. Elke dag in die wildernis is vir my ‘n voorreg. Ek hou daarvan om my liefde vir die natuur met mense te deel.

Ek voel ongetwyfeld geëerd om sulke erkenning te kry. Conde Nast is ‘n prominente reis-publikasie. Mens moet egter versigtig wees. Daar is baie safari-gidse wat beter as ek is, wat nie die blootstelling gekry het nie. Ek dink aan soveel ouens by wie ek geleer het. Ouens soos Festus Binga, Aloisieus Waterboer en Gerhard Thirion. Daar is vele ander. Ek wil nie uitgesonder word nie.

Ek hoop hierdie antwoorde is na wense. Ek glo Marius sal mildelik bydra. Neem dit maar met ‘n knippie sout.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version