Veertien vermeende stropers aangekeer

Ons is onder geweldige druk en elke arrestasie bemoedig ons. Dit is net weer 'n bewys dat, as ons saamstaan, ons wel renosterstropery kan hokslaan

SKUKUZA – Die polisie en veldwagters het hierdie naweek ‘n reuse-slag geslaan toe hulle 14 vermeende stropers in die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) vasgetrek het. Daar is nou al 113 verdagte stropers sedert die begin van die jaar in die wildtuin aangekeer.

Polisielede en veldwagters het vroeg Vrydagoggend saamgespan en ‘n verdagte voertuig naby Skukuza afgetrek, waar ‘n .375-jaggeweer, ammunisie en stropingsgereedskap gevind is. Vyf insittendes is gearresteer.

Later daardie middag het veldwagters nog ‘n verdagte voertuig in die Malalane-gedeelte opgemerk en vermoed dat die insittendes moontlik by stroping betrokke was. Die voertuig is afgetrek en drie insittendes is gearresteer. Vroeg die volgende dag net na sonop in die Punda Maria-gedeelte, het polisielede en veldwagters met behulp van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag se lugvleuel op drie vermeende stropers afgekom. Twee van hulle is geskiet en ‘n derde is gearresteer. ‘n Jaggeweer, ammunisie en ander stropingsgereedskap is by hulle gekry.

Die twee gewondes is onmiddellik hospitaal toe gevat, maar een het later aan sy wonde beswyk. Die ander word nog onder polisiebewaking behandel. 

Gen. Johan Jooste wat aan die stuur van die anti-stropingsoperasies staan, het almal wat betrokke was by die arrestasies gelukgewens. “Ons is onder geweldige druk en elke arrestasie bemoedig ons. Dit is net weer ‘n bewys dat, as ons saamstaan, ons wel renosterstropery kan hokslaan. Ek is geweldig dankbaar vir die samewerking en toewyding van die mans en vroue in uniform wat reuse-uitdagings in die daaglikse uitvoer van hul pligte teëkom, maar tog aanhou om ons natuurlike hulpbronne teen gierige stropingsindikate te beskerm.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version