CrimeEnvironmentalHard newsNewsNewsWar against poachingUpdate

Streeksveldwagter kry borg

Mnr. Ian McDonald, 'n lektor in natuurbewaring by Unigrad, het 'n petisie-skrif wat deur verskeie diereliefhebbers onderteken is om die beskuldigdes se borg teen te staan, by die hof ingedien

WITRIVIER – Die streeksveldwagter van Onder-Sabie wat van renosterstroopverwante misdrywe aangekla word, is Vrydag borg van R15 000 in die plaaslike landdroshof toegestaan.

Mnr. Laurence Baloyi (42) is nie borg geweier nie omdat hy van ‘n sogenaamde skedule 1-misdryf aangekla word en nie skedule 5 soos sy medebeskuldigdes, mnre. André Mabunda (42) en Shakes Baloyi (46) nie. 

Hulle is op 21 September toevallig in die Onder-Sabiegebied van die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) aangekeer. Polisielede was besig om ou stropingstonele vir leidrade te fynkam toe hulle skote gehoor het. Hulle het ‘n helikopter beskikbaar gehad en dadelik ondersoek ingestel. 

Sowat drie kilometer verder het hulle op ‘n vars karkas afgekom. Dit was duidelik dat die stropers onderbreek was omdat hulle net begin het om die dier te onthoring en nie klaargemaak het nie. Beamptes het die gebied gefynkam en ‘n spoorsnyhond het twee mans in ‘n nabygeleë bos uitgesnuffel. Dit was glo Mabunda (‘n veldgids) en Shakes (‘n tuinier). Daar is ‘n .458-jaggeweer en ammunisie, glo dié van Laurence, by hulle gevind. 

Die drie het op 23 September vlugtig in die hof verskyn en die saak is weer Vrydag aangehoor. Mnr. Ian McDonald, ‘n lektor in natuurbewaring by Unigrad, het ‘n petisie-skrif wat deur verskeie diereliefhebbers onderteken is om die beskuldigdes se borg teen te staan, by die hof ingedien.

Laurence is bloot van ‘n skedule 1-misdryf aangekla en moes dus slegs kon aandui dat hy nie ‘n vlugrisiko is nie en wel vir sy verhoor sou opdaag. Hy het sy paspoort ingedien en moet aan streng borgvoorwaardes voldoen.

Mabunda en Shakes word van ‘n skedule 5-misdaad aangekla en hulle regsverteenwoordiger moet dus kan bewys dat dit in die belang van geregtigheid is dat hulle op borg vrygelaat moet word.

Hulle moet tot 13 Oktober in aanhouding bly, wanneer hulle waarskynlik weer om borg sal aansoek doen.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button