Local newsNewsNewsUpdate

Boemelaar nou oppie klippe

'n Ander boemelaar, Dolf Myburgh, het hom intussen by Mark aangesluit. Hy vermaak motoriste met 'n bordjie wat lui: "Ek is in die k*k, help my asb".

Mark Matthews, die bekende boemelaar by die Tarentaal-kruising, meen sy “onderneming” het ‘n knou gekry vandat Laevelder oor hom berig het. Dié koerant het onlangs onthul dat Mark tot R5 000 per maand verdien deur te bedel en dit skaamteloos uitdrink.

“Dit gaan baie sleg, ek het Woensdag die hele oggend staan en bedel en net R2,50 gemaak,” het hy gesê. ‘n Ander boemelaar, Dolf Myburgh, het hom intussen by Mark aangesluit. Hy vermaak motoriste met ‘n bordjie wat lui: “Ek is in die k*k, help my asb”. Hy het die koerant geroskam oor sy beriggewing oor Mark en reken dat “almal so nou en dan ‘n doppie maak”.

Hy het gevra: “Hoekom moet arme Mark nou gejudge word omdat hy ‘n Zorba geniet?” Die 48-jarige man wat vertel dat hy uit ‘n korporatiewe agtergrond kom, het erken dat hy self so nou en dan “‘n ietsie vat”.

Dolf is nou reeds vir drie weke in Mbombela. Hy het van Middelburg af “verhuis” nadat hy in hegtenis geneem is vir “staan en kyk”. Hy het later verduidelik dat hy gesien het hoe boosdoeners by ‘n voertuig inbreek en is saam met hulle toegesluit. Hy het nou sy mes in vir die polisie. “Ek is suur my bra, hoe kan die SAPD my toesluit vir staan en kyk?” het hy gevra.

Hy het daar en dan besluit om te trek. Op pad na hul bestemming het hy en sy vrou eers ‘n draai in Newcastle gemaak. Daarna het hulle weer in die pad geval, en volgens Dolf, het hy en sy vrou ‘n T-aansluiting bereik. Die padteken het gewys dat Pretoria in een rigting is en Mbombela in die ander. “Not die f*k gaan ek terug Pretoria toe!” het hy vertel oor hoekom hy Mbombela gekies het. Sy vrou is terug Pretoria toe. “Ons is steeds getroud maar sy bly daar en ek bly hier. Ek weier om terug te gaan.”

“Ek’s al vir twee maande oppie klippe my bra, en ek kan jou waarborg dat dit nie lekker is nie. Net soos wat my plakaat sê, ek is regtig in die k*k.” Hy deel ‘n tent met Mark, maar het bygevoeg: “Ek het ‘n vis, ‘n slang en ‘n hamster om te voer en dan soek die vrou nog make-up en haar dye ook.”

Mark was maar ‘n man van min woorde tydens Laevelder se opvolgbesoek en Dolf het die meeste van die praatwerk gedoen. Hy het vertel dat Mark se gesondheid nou begin lol. “Hy kry black-outs, sy bene is besig om in te gee en die suiker gee probleme.”

Hy reken hy sal enigiets doen om geld te verdien, want volgens hom, verdien hy skaars ‘n R100 per dag. “Party dae verdien ek R40, en ‘n plate (pap en vleis) kos amper R30, hoe moet ‘n ou leef?”

Hy het vertel dat hy graag wil werk, maar nie bereid is om te werk vir ‘n klein salaris soos R2 000 per maand nie.

Hy daag enigiemand uit om vir ‘n naweek in hulle omstandighede te bly. “Ek sal wil like om te weet met watse plannetjies jy mee vorendag sal kom om geld te maak.”

Net soos wat hy steeds sy mes in het vir die polisie wat hom reeds twee keer weggejaag het, is hy net so keelvol vir mense wat hulle oordeel.

“F*k almal wat my judge, net God mag judge.” Tog sê Dolf in dieselfde asem dat hulle ‘n nuwe tent kort en hulp sal waardeer.

Lees die aanvanklike storie oor Mark Matthews hier

Back to top button