News

Montana spoel weg

Verlede naweek het gesinne rustig op die klippe in die Gladdespruit uitgespan en vandag het die reën wat die week oor die Laeveld neergegiet het, groot skade veroorsaak.

NELSPRUIT – Die Gladdespruit op die Kaapsehooppad, het Bushveld Lodge seker die ergste getref. Hut  1 en -9 het op ‘n lieflike groot bloekomboom uit gekyk- die boom se stam het gebreek maar dit het genadiglik nie op die huisies geval nie. Die piekniekarea is weggespoel; die bruggie na die lapa is kniediep onder water en die mure het ingval.

“Ons het miljoene rande se skade gely. Die twee vrieskaste, vier gewone dubbeldeur-yskaste, drie koeldrank- en drie bier-yskaste het weggespoel. Al ons elektriese toerusting en breekgoed is weg. Ons het probeer red wat ons kon, maar ons kan nie op die oomblik in die lapa kom nie,” het die huishoudster en organiseerder van funksies, Maggy Kruger gesê.

‘n Kilometer verder lê Montana Garden Pavilion. Die eienaar, Diane Ross, het gesê dat hulle die ergste skade sedert 2000 gely het. “As ek na die watervlak kyk lyk dit of ’n damwal gebreek het. Ons speeltuin se swaaie is glo tot teen een van Nou’s Toeka,verder op teen die rivier, se bome gespoel – die sambrele, stoele en tafels is alles weg. Dit is moeilik om die skade te bepaal omdat ons nie nou daar kan uitkom nie. ’n Deel van die teer in die parkeerarea is ook opgelig. Sodra die watervlak gedaal het, gaan ons skoonmaak dat die biesies bewe.” Die kwekery se gebou is volgens die vloedlyn só gebou dat die water onder die gebou kon deurvloei en dit het dus niks oorgekom nie.

Die eienaar van Bushveld Lodge, mnr. Tony van Eijk saam met een van sy werkers, Jeffrey Mbuyane.
Die eienaar van Bushveld Lodge, mnr. Tony van Eijk saam met een van sy werkers, Jeffrey Mbuyane.

Die pragtige, Nou’s Toeka het “deur die Here se genade geen skade gely nie.” Die landgoed is ietwat hoër as dié van hul bure geleë. “Die water was nog nooit so naby aan ons boktoring soos nou nie, maar die bokke is veilig. Daar is sementblokke en stoele wat in die takke vasgevang is, maar ons eie goed is nie beskadig nie,” het die eienaar se vrou, me. Anzee Schoeman gesê.

Volgens die weerburo lyk dit nie of die donker wolke binnekort gaan verdwyn nie.

Sien nuus oor die vloede in die hele Laeveld streek hier.

Back to top button