Vrou wat ongeluk in Ferreirastraat aanskou deel haar ervaring

Me. Nel het gister by navraag gesê dat sy Badenhorst nie verwyt nie. "Hy was ook jonk en wou net afshow. Ek voel baie jammer vir sy ouers

NELSPRUIT – ‘n Vrou, me. Marlize Meyer, het geskok gestaan en toekyk hoe ‘n luukse Mercedes-sportmotor Saterdagoggend aan flarde geruk word toe dit ‘n lamppaal in Ferreirastraat getref het.

Mnr. Bouwer Badenhorst (26), ‘n finansiële adviseur en oudleerling van Hoërskool Nelspruit, se voorliefde vir vinnige motors sou uiteindelik sy lewe eis. Laurie Nel (15), ‘n gr. 10-leerling van Hoërskool Bergvlam wat Badenhorst oomblikke tevore ontmoet het, het ook aan ernstige kopbeserings beswyk.

Meyer se eie seun, Dylan (16) sou self in die voertuig geklim het as sy nie gekeer het nie.

Die ongeluk het omstreeks 00:20 naby Minuteman Press en Wimpy gebeur. Meyer het aan Laevelder vertel dat haar seun saam met Stevie Pieterse (15) en Laurie by die Shell-vulstasie was. Volgens Stevie het hulle lugtyd gaan koop. “Badenhorst se Mercedes-Benz het daar gestaan en die kinders het dit bewonder,” het Meyer vertel. Dit was ‘n A-klas AMG-model.

Meyer het self pas by die vulstasie gestop om die kinders op te laai en het gesien hoe ‘n man (Badenhorst) op sy selfoon staan en praat. Hy het gesien die tienerseuns is met sy Mercedes beïndruk en het aangebied om ‘n draai met hulle te gaan ry. Dylan het na sy ma gehardloop en gesê dat hy gou saam met Badenhorst in die motor wou ry.

“Ek het hom gekeer en gesê hy klim nie saam met ‘n vreemde man in ‘n kar nie.” Nog voordat sy kon keer, het Laurie en Stevie egter saam met Badenhorst in die sportmotor geklim en hulle is daar weg. “Ek het nog vir my seuns gesê hy gaan hulle nou vir ‘n joyride vat en afshow.”

Sy het Badenhorst probeer agtervolg, maar hy was te vinnig. Sy het toe in Ferreirastraat van die pad afgetrek en daar gewag in die hoop dat hy sou terugkom.

Dit sou later aan die lig kom dat Badenhorst opwaarts met die straat in Steiltes se rigting gery en ‘n U-draai naby die Village-inkopiesentrum gemaak het. Hy het teruggekom en links in die Wimpy se rigting geswenk.

“Die volgende oomblik het die Mercedes die randsteen getref en die bestuurder het beheer verloor,” het Meyer vertel. Die voertuig is teen twee pale vas en die regterpaneel is op impak afgeruk. Sy het nader gehardloop en gesien dat Badenhorst en Laurie buite die voertuig lê.

“Daar was geen teken van lewe by Badenhorst nie. Laurie het op sy maag gelê en hoewel hy ‘n pols gehad het, het hy nie asemgehaal nie,” het sy huilend vertel.

Stevie het voor langs Badenhorst gesit en is nie beseer nie. Meyer het vir die mense wat intussen by die toneel stilgehou het, geskree om paramedici te ontbied. “Ek het gedink dat Laurie sy ouers op die toneel sou wou hê. Ek, my twee seuns en Stevie het na hul huis gejaag.”

Sy het emosioneel vertel dat, toe Laurie se ma haar vra of iets met haar seun gebeur het, sy geantwoord het: “Julle kind het saam met ‘n vreemde man in ‘n kar geklim en daar was ‘n grusame ongeluk.”

Laurie se ouers, mnr. Louwtjie Nel en sy vrou, Melinda, het toe by die toneel aangekom. Hy was reeds hospitaal toe geneem, maar is by sy aankoms dood verklaar. Mnr. Jacques Meiring, operasionele bestuurder van Bossies Community Justice wat self jare gelede ‘n dogter in ‘n motorongeluk verloor het, het hulle bygestaan.

Dit het aan die lig gekom dat Stevie ‘n selfoonvideo binne-in die Mercedes gemaak het. Verskeie reddingswerkers het dit onder oë gehad, onder andere Meiring en mnr. Shaun Naudé, ‘n insleep-operateur.

“Jy kon hoor hoe iemand sê: ‘Hy gaan hulle nou iets wys. As jy gedink het hierdie was erg, dis nog niks,” het Meiring vertel. “Iemand het glo ook gesê: ‘Reg, reg, hier kom die draai”.

Naudé het vertel dat jy kon sien hoe die strepe op die pad verbyflits. “Hy het só vinnig gery dat dit soos een soliede lyn gelyk het.
“Die kamera was op ‘n stadium op die snelheidsmeter gerig en hoewel ek nie die presiese spoed kon sien nie, kon ek sien dit was hoog.” Stevie het aan Laevelder gesê dat hy nie kon sien hoe vinnig Badenhorst gery het nie.

Meyer was duidelik getraumatiseer deur dit wat sy gesien het. “Dit is baie, baie moeilik. Ek het hierdie hele naweek nog nie geslaap nie. Laurie was ‘n pragtige jong seun.

“Die skole moet hierdie voorval met leerders bespreek en hulle wys hoe gevaarlik dit kan wees om saam met iemand wat jy nie ken nie, in ‘n voertuig te klim.”

Laurie en Stevie was in dieselfde dagmoeder se sorg toe hulle babas was en was ook in dieselfde kleuter- en laerskool. Stevie het vertel dat Badenhorst baie vriendelik en betroubaar gelyk het en dat hulle geen rede gehad het om hom nié te vertrou nie.
“Laurie en Stevie was albei baie lief vir karre en toe dié geleentheid hom voordoen, het hulle nie twee keer gedink nie,” het Stevie se ma, me. Stephnie Pieterse, bygevoeg.

Me. Nel het gister by navraag gesê dat sy Badenhorst nie verwyt nie. “Hy was ook jonk en wou net afshow. Ek voel baie jammer vir sy ouers.” Haar man het bygevoeg dat hy verskriklik teleurgesteld is in mense se kommentaar op Laevelder se Facebook-blad oor die voorval. “Mense weet nie wat gebeur het nie.”

Me. Nel het haar seun as iemand wat baie lief was vir mense en altyd gelag het, beskryf. Laurie word Donderdag om 11:00 vanuit die NG Moedergemeente ter ruste gelê.

Mnr. Louis Badenhorst, Bouwer se pa, was te hartseer om met Laevelder te praat en het ‘n skrywe met huldeblyke aan die koerant gestuur. Badenhorst se ma, me. Isabel Badenhorst, het Vrydag boonop haar ma óók aan die dood afgestaan.

‘n Roudiens word Saterdag om 11:00 vir Badenhorst vanuit die Communio Kerk gehou. Die teraardebestelling vind hierna by die ou begraafplaas in Witrivier plaas.

• Lees die aanvanklike berig hier

Exit mobile version